Sendeling in Centurion met panga aangeval

Die kapwond aan Chris Visser se arm. Foto: Verskaf

Chris Visser, ʼn 71-jarige sendeling en inwoner van Centurion, is Dinsdagmiddag met ʼn panga aangeval terwyl hy gaan stap het.

Visser, ʼn inwoner van Bronberrick, het Woensdag aan Maroela Media gesê hy het omstreeks 17:15 oudergewoonte op ʼn Park Run-roete in Bronberrick-Wes gaan stap toe hy in die veld naby die N14-snelweg aangeval is.

“Die man het my genader en aanvanklik vriendelik voorgekom. Toe kom staan hy voor my en sê ‘waar is jou geld?’,” het Visser gesê.

Visser het gesê die aanvaller het skielik ʼn panga uitgepluk en toe het hy eensklaps besef die situasie is ernstig. “Ek het vir hom gesê ek het niks by my nie, want ek het gaan stap. Hy slaan my toe een hou en begin my sakke deurvoel. Hy het my toe nog ʼn hou geslaan. Ek het met my arm gekeer en die panga het my linkerarm oopgekloof.”

Die aanvaller het gesien al wat Visser van waarde aan hom gehad het, was sy trouring – wat hy al 45 jaar lank dra.

“Ek moes my trouring vir hom gee, maar het gesukkel om dit af te kry en word toe weer geslaan. Ek het die ring uiteindelik afgekry en vir hom gegee, waarna hy in die rigting van die snelweg weggehardloop het.

“Terwyl hy weggehardloop het, het ek sommer vir hom gepreek en gesê ‘ek bid vir jou’,” skerts Visser.

Visser het snywonde op sy linkerarm, bo die pols, en linkerbeen opgedoen. Hy het met die wonde aan sy been en arm sowat 1 km huis toe geloop, waarna hy na die ongevalle-eenheid van Unitas-hospitaal gehaas is. Daar is sy wonde toegewerk en hy is dieselfde dag ontslaan. Hy sterk tans by die huis aan.

Visser het gesê hy het die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) van die aanval in kennis gestel, maar nog nie ʼn saak by die polisie aanhangig gaan maak nie. Hy is van plan om Donderdag die voorval aan te meld.

“Dit was nie die eerste aanval nie. Dit het al voorheen gebeur. Die aanvallers sit tussen die gras en kyk vir mense wat alleen loop om hulle te teiken. Die probleem sal moontlik opgelos kan word as daar ʼn heining by die veldgedeelte langs die snelweg opgerig word, want dit is nou vir die aanvallers ʼn maklike wegkomroete,” het hy gesê.

Visser, wat al jare lank sendingwerk doen, koester geen wrok nie. “Ek het tydens die aanval die Here se teenwoordigheid by my beleef. As ek nou terugkyk, is dit ʼn wonderwerk dat ek so min beserings opgedoen het. Ek het pas ʼn boek oor my sendingsopdrag geskryf en die voorblad daarvan is die wonde aan Jesus se hande toe Hy gekruisig is. Ek kon met my wonde na ʼn ongevalle-eenheid gaan. Jesus kon nie.”

Visser het ook gesê dit help nie ʼn mens verwens booswigte nie. “Dit wys net dat daar ʼn donker nood in die land is en ons moet die evangelie by hulle uitbring,” het hy bygevoeg.

  • Vir meer inligting oor Visser se boek en om dit te bestel, besoek dié skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

humor ·

Die heerlike dae van alleen gaan stap en met jou eie gedagtes besig te wees is verby. Dit kon baie erger gewees het. Gelukkig het die aanvaller nie n slypsteen nie.

Lola ·

Stem saam Kessie. En dit sal regtig nie honderde duisende rande kos om die park-run area af te sper van die snelweg nie. Of om die gras netjies kort te hou nie. Die laerskool gebruik ook daardie grond vir “park-runs” . DA?

Helizna ·

Pêrels voor die swyne… In amper 400 jaar nog nie reggekry nie. Skop die stof af, sendelinge, hulle soek nie jou Here nie!

Stuiwer ·

As sendelinge (en ons) net moed opgee op mense, sal die boosheid altyd wen. Gelukkig sal God nooit sy rug op hierdie mense draai nie.

Netso ·

Jammer oor jou trouring! Ek het laasmaand my ring in ñ kluis in Croatia vergeet en dit was 3 dae later 800km vêrder in my posbus by ons voordeur afgelewer! Croatia is ook arm en is net onder SA wat werkloosheid betref!

Stuiwer ·

Ek neem aan jy bly nie in SA nie? Dit is ongelukkig nie hier so soos in die res van die wëreld nie. Ek wens dit was anders….

pjk ·

Helizna, ek stem saam….hulle soek nie onse God nie. Skop af die stof van jul voete. Luk 10:11 sê: Selfs jul dorp se stof wat aan ons voete sit, vee ons af as aanklag teen julle. Maar dit moet julle weet: “Die koninkryk van God is baie naby”.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.