Sendingstasie gooi wal oor ernstige bewerings  

Ruth Combrink.

Nog ʼn week is verby waarin die KwaSizabantu-sendingstasie (KSB) naby Kranskop, KwaZulu-Natal, verdoemende bewerings van verkragting, seksuele mishandeling en geldwassery teen hom ten sterkste ontken het.

Die bewerings wat reeds jare deur oudlede van dié sendingstasie gemaak word, is opnuut in die kollig geplaas in ʼn reeks mediaberigte deur News24.

Die onlangse verslaggewing het KSB genoop om direk met die media te praat en die sendingstasie het in ʼn kort virtuele verskyning op die bewerings reageer.

Ruth Combrink, algemene bestuurder van aQuellé, die bottelwateraanleg by KwaSizabantu, en dogter van die sendingstasie se stigterslid, Erlo Stegen, het die media toegespreek.

“Ons maak ons harte teenoor almal oop, ook aan ons handelaars, om hulle te verseker van ons deursigtigheid en die sterk etiese waardes waarvoor ons bekend is.”

Foto: Facebook

Combrink het die versekering gegee dat die sendingstasie se leierskap alles in sy vermoë doen om mense in Suid-Afrika en oorsee gemoedsrus te gee.

KSB het vroeër aangekondig ʼn onafhanklike hersieningspaneel is aangestel om die bewerings teen die sendingstasie te ondersoek. Die paneel wat uit twee persone bestaan sluit in prokureur Peter le Mottee en adv. Khumbu Shazi.

Op navraag het Shazi én Le Mottee bevestig dat hulle ondersoek na die bewerings teen KSB reeds begin het.

“Die paneel ontvang tans voorleggings van diegene wat wil deelneem aan die onafhanklike ondersoek. Hangende die ondersoek kan daar in dié stadium geen kommentaar oor die meriete van die ondersoek gegee word nie.”

Intussen het die gespesialiseerde sekuriteitsdienste van spesialisondersoeker Mike Bolhuis die afgelope week die blootstelling van News24 se mediadekking verwelkom en gesê dit is ʼn bevestiging van Bolhuis se eie ondersoek wat meer as ʼn jaar gelede van stapel gestuur is.

Maroela Media het voorheen berig dat KwaSizabantu sedert verlede jaar al deur van Bolhuis se ondersoekers ondersoek word vir beweerde geldwassery van ongeveer R136 miljoen. In dié ondersoek word sommige van die sendingstasie se leiers binne die top-struktuur by beweerde geldwassery en diefstal betrek.

‘n Lugfoto van die KwaSizabantu-sendingorganisasie in Kranskop. Foto: Skermskoot/YouTube-video

In haar reaksie die week het Combrink dit duidelik gemaak dat die sendingstasie se leierskap die bewerings van mishandeling teen vroue en kinders in ʼn ernstige lig beskou.

“Die sending kan nie bekostig om enigiets behalwe uiters deursigtig te wees in die bewerings van mishandeling van vroue en kinders nie. Die leierskap en die hele sendinggemeenskap neem die bewerings rakende voorvalle van mishandeling baie ernstig op.”

Combrink voer ook aan dat die sendingstasie sy volle samewerking gee in die ondersoeke. “Dit is ons voorneme om enige onregmatige oortredings reg te stel, en ons is daartoe verbind om die nodige stappe te doen om herstel te bewerkstellig.”

Vaughan Schwartz, een van Bolhuis se spesialisondersoekers wat die beweerde geldwassery by KSB ondersoek, het egter sy kommer uitgespreek oor die gebrek aan deursigtigheid by die sendingstasie.

“Ons ondersoekspan is aanvanklik na die sendingstasie vir ʼn besoek aan KSB genooi maar is later gesê ons is nie meer welkom nie nadat ons duidelik gemaak het met wie ons onderhoude wil voer, en watter dokumente ons wil bestudeer.”

Hy meen ook dat deursigtigheid rakende finansiële sake gebrekkig is. Schwartz se span gee ook sy samewerking aan die Valke se ondersoek na bedrog by die sendingstasie. Hy daag KSB uit om as ʼn geregistreerde openbare voordeelorganisasie (PBO) sy finansiële state aan die publiek bekend te maak.

“Ons weet dat KSB se eertydse ouditeure vir minstens vyf jaar nie hulle finansiële jaarstate kon afteken nie weens onreëlmatighede. Ondanks die pogings van die ouditeure om antwoorde van die trustees te kry kon die onreëlmatighede nie deur die trustees opgelos word nie.”

Die private speurder Mike Bolhuis. (Foto: Facebook)

Bolhuis het op sy beurt gesê dat die bewerings by KSB nie ʼn geïsoleerde geval is nie. “Dit is iets wat wêreldwyd gebeur sedert die aanvang van die charismatiese beweging. Mense moet net so versigtig wees om by godsdiensinstellings betrokke te raak as wat hulle is om by enige vorm van belegging betrokke te raak.”

Die Valke se ondersoek na bedrog by KSB duur intussen voort terwyl verskeie ander instellings, departemente en wetstoepassingsagentskappe met ondersoeke begin het na beweerde menseregtevergrype en geldwassery by die sendingstasie. Die jongste toevoeging tot die lys is die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalkundige Gemeenskappe (CRL) in samewerking met die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke (SARK) wat beoog om volgende week met belanghebbendes samesprekings te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Snowball ·

Vir jare al is daar sprake van ongerymdhede; geen finansiële deursigtigheid, intimidasie van mense wat die organisasie verlaat en indoktrinasie en beheer van lede en nooit het hulle gepoog om dit te uit te klaar nie; skielik word hulle finansieël bedreig en hulle raak gewillig om verklarings uit te reik en saam te werk? Wonder maar net is ‘sendingwerk’ die hoofdoel?

MakersMark ·

As die geldjies opdroog spring hulle. Ongelukkig bietjie laat, die “sendingstasie” se beeld is nou so beskadig sit sal nooit regkom nie.

Jaco ·

Wat maak hierdie geldgierige Christene met die volgende 2 Bybeltekste:
Die liefde vir geld is die wortel van alle kwaad
EN
Dis makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan
Plak hierdie geldgierige Christene dié 2 Bybeltekste toe, of kom hulle met die flou verskoning van “dis verkeerd vertaal”.

amapinki ·

“Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie.”
MATTEUS 6:24 AFR83

“Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.
MATTEUS 7:21 AFR83

“Pas op vir die vals profete. Hulle kom na julle toe in skaapsklere, maar in werklikheid is hulle verskeurende wolwe.
Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. Kry ‘n mens dan druiwe aan doringstruike of vye aan dissels?
Elke goeie boom dra tog goeie vrugte, maar ‘n slegte boom dra slegte vrugte.
‘n Goeie boom kan tog nie slegte vrugte dra nie, en ‘n slegte boom nie goeie vrugte nie.
Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.
So sal julle die vals profete dan aan hulle vrugte ken.”
MATTEUS 7:15‭-‬20 AFR83

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.