Sendingstasie reageer op ernstige bewerings

Foto: Facebook

Talle instellings, departemente en wetstoepassingsagentskappe het met ondersoek begin na beweerde menseregtevergrype en geldwassery by die omstrede KwaSizabantu-sendingorganisasie (KSB) in Kranskop, KwaZulu-Natal.

Dit kom na ʼn maande lange ondersoek deur News24 wat bewerings van verkragting, seksuele mishandeling en geldwassery aan die lig gebring het. Talle ondersoeke gaan nou volg.

Reeds in Augustus is berig dat die Valke in KwaZulu-Natal bevestig het dat hulle besig is met ʼn ondersoek na aantygings van bedrog by KSB. Maroela Media berig sedert Oktober verlede jaar oor bewerings van geldwassery van ongeveer R136 miljoen by die sendingstasie.

KSB het vir die eerste keer op die bewerings gereageer. In ʼn verklaring wat aan Maroela Media gestuur is, ontken KSB dat dit ʼn kultus of sekte is. “Die wrede aanval op KwaSizabantu is skokkend. Hierdie media-ontploffing het ten doel om gerugte te versprei en die humanitêre en geestelike werk van hierdie Christelike sendingstasie te vernietig.”

Volgens KSB het “honderde duisende” mense die sendingstasie oor die jare besoek en hulp ontvang. “Niemand is al ooit gedwing om hier te bly nie. Geen werknemer of vrywilliger is al ooit gedwing om hier te werk nie.”

KSB bedryf ’n suksesvolle aanleg waar aQuellé-water gebottel word. Emseni Farming word ook van daar af bedryf en verskaf groente en vrugte aan talle groothandelaars. Die gebottelde water en vrugte en groente word verskaf aan handelaars soos Woolworths, Spar, Makro, Game, Shoprite, Checkers en Food Lover’s Market. Baie van dié groothandelaars het reeds aangedui dat hulle nie meer sake met KSB doen nie of dat hulle antwoorde geëis het oor die bewerings teen KSB, berig Business Insider.

KSB voer verder aan dat aQuellé en Emseni Farming gestig is om die verskeie bedienings finansieel te ondersteun. “Die sending is vol vertroue dat nie hy of die ondernemings wat met hom verbind word enige finansiële onreëlmatigheid gepleeg het ten opsigte van bewerings van geldwassery nie. Die leierskap van die sending neem hul verantwoordelikhede en finansiële sake ernstig op en het niks om weg te steek nie.”

Daar is ʼn smeerveldtog teen KSB en daar word van goedkoop taktieke en laste gebruik gemaak om dit te voer. “Dit is rassistiese, misleidende vertellings wat buite konteks aangebied word deur ontevrede lede van die samelewing.”

KSB meen diegene wat aantygings teen die sendingstasie maak, kan die normale wettige prosedures volg. “Diegene teen wie daar beweerde oortredings begaan is, moet geregtigheid deur die regstelsel soek. Die feit dat hierdie bewerings nooit aan die owerhede oorgedra is nie, laat die vraag ontstaan oor waarom nie. Hoekom het die sogenaamde slagoffers nie gedoen wat wetlik verwag word nie? Hoekom die sendingstasie blameer?”

‘n Lugfoto van die KwaSizabantu-sendingorganisasie in Kranskop. Foto: Skermskoot/YouTube-video

KSB het egter nou ʼn onafhanklike hersieningspaneel aangestel om die bewerings van menseregtevergrype te ondersoek. Die lede van die paneel, die omvang van sy ondersoek en sy verslag en aanbevelings sal beskikbaar gemaak word.

“Uit die staanspoor ontken ons die bewerings ten sterkste. Dit is verkeerd, maak seer en is skadelik.”

Die Mensregtekommissie en die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Godsdienstige en Taalkundige Gemeenskappe (CRL) het intussen ook bevestig dat hulle ondersoek instel na die bewerings van menseregtevergrype. Die departement van maatskaplike ontwikkeling in KwaZulu-Natal kyk ook na die bewerings van verkragting en seksuele aanranding. Bheki Cele, minister van polisie, het tydens ʼn mediakonferensie bevestig dat wetstoepassingsagentskappe met ondersoeke besig is.

KwaSizabantu is aan die einde van 1966 deur Erlo Stegen, ʼn Suid-Afrikaner van Duitse afkoms, gestig nadat hy geglo het ʼn Christelike herlewing het onder die Zoeloes posgevat. Die sendingstasie staan bekend as ʼn vrywillige diensverskaffer wat op Bybelse beginsels gegrond is en as ʼn openbare voordeelorganisasie (PBO) geregistreer is. Mense wat na die sendingstasie kom, kan by selfsorg-projekte betrokke raak. Dit sluit onder meer ʼn boerdery, ʼn pottebakkery, ʼn konfytfabriek en verpleegdiens in. Daar is ook opleidingsfasiliteite soos ʼn skool, onderwyskollege en ʼn skool vir volwasse opleiding. Die sendingstasie kan meer as 7 000 mense huisves.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Michael ·

Dis darem baie interessant, vir jare word daar bewerings teen omtrent die hele kommunistiese ANC en die Guptas gemaak, boeke is geskryf oor hul wandade, bedrog, korrupsie, menseregteskendings, eposse is vrygestel met bewyse,daars die Zondo sirkus en steeds geen werklike doelbewuste ondersoeke teen hulle nie. Maar laat enige ander persoon of organisasie nou net poep in die straat dan is al wat ‘n ondersoekorganisasie op hom. Mindboggling-maar nou ja ons bly in Afrika

Jaco ·

Wat maak dié geldgierige Christene met die volgende 2 na Bybelverse:
Die liefde vir geld is die wortel van alle kwaad
En
Dis makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan.
Plak hulle dié verse toe, of sê hulle “dis verkeerd vertaal”

Adam Adriaan ·

Dit wil voorkom of hulle daar net voorvadergeeste aanbid. Afgodery dit is die wortel van die probleem

Fritz ·

Jaco, ek het daai 2 verse met n dik swart viltpen doodgekrap.

Kokkie ·

Klink vir my na ‘n geval van wolwe in skaapsklere………

Francois Le Cochon ·

Ja, “good guy, bad guy”, soos dwelmbase wat baie vir die geenskap doen, maar dan aan die ander kant hul besig hou met bendebedrywighede.

madels ·

Ek ken nie die mense wat daar by KSB betrokke is nie maar ek is maar baie versigtig om sommer net ook op die “bandwagon” te spring en hulle te oordeel. Jesus was vervolg tot die dood en so sal Sy volgende ook vervolg en erg valslik beskuldig word, net soos Jesus was

Sarel ·

1. Dit is jammer en tragies dat ‘n plek wat soveel werk onder die Gemednskap gedoen het nou vernietig word.Mense moet maar wag voor hulle mond sit tot sake afgehandel is.
2. Dit verbaas my egter hoeveel Orgsnisasies nou skielik betrokke raak. Lyk na ‘n Heksejag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.