Senekal: Aanklagte teen boer ‘onregverdig en ruik na rassisme’

André Pienaar (51) tydens Dinsdag se betoging buite die hof op Senekal.

Die VF Plus het sterk uitgevaar oor die aanklagte van terrorisme en poging tot moord teen die boer wat in hegtenis geneem is ná Dinsdag se oproer by die Senekal-landdroshof.

André Pienaar (51) is die naweek agter tralies nadat sy borgtogaansoek Vrydag afgehandel is en uitspraak tot Dinsdag voorbehou is. Hy word ook van aanhitsing van geweld en openbare geweldpleging aangekla.

Dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, meen die aanklagte van terrorisme en poging tot moord is ernstig en onbillik. “Die vervolgingsgesag maak homself daardeur skuldig aan vooroordele en vervul nie sy rol as ʼn objektiewe gesag wat gelykmatig in belang van elke persoon in die land moet optree nie.”

Die aanklagte teen Pienaar dien volgens Groenewald ook as ʼn bewys dat daar dubbele standaarde is wanneer boere en die landbougemeenskap geraak word.

“Die staat het ook ʼn senior advokaat aangestel om mnr. Pienaar se borgtogaansoek teen te staan. Dit is duidelik dat die vervolgingsgesag ʼn voorbeeld van mnr. Pienaar wil maak om sodoende ʼn boodskap aan die boere en die landbougemeenskap te stuur.”

Die vervolgingsgesag moet objektief, billik en regverdig optree teenoor alle aangeklaagdes, sê Groenewald. “Dit is duidelik dat dit hier nie gebeur nie en dat die klagte totaal uit verband geruk word. Daar was geen sprake van terrorisme tydens die Senekal-hofsaak nie en niemand se lewe is bedreig nie.”

Hierdie tipe aanklagte gaan net emosies opjaag en kan lei tot verdere konflik in Suid-Afrika. “Dit kom neer op verdere aanhitsing deur die vervolgingsgesag. Daar is nêrens gesien dat enige klagte van terrorisme en poging tot moord ingedien is teen lede van die EFF toe hulle in ʼn landwye veldtog van geweld die Clicks-winkels geplunder het nie.”

Volgens Groenewald is daar ook nie gesien dat sulke klagte ingedien is ná landwye diensleweringsprotesoptogte waar polisievoertuie opsetlik aan die brand gesteek is en private eiendom geplunder is nie.

Dr. Pieter Groenewald. (Foto: VF Plus)

“Dit is totaal onaanvaarbaar en ek sal as leier van die VF Plus hierdie saak direk verder opneem met die betrokke ministers en die polisie.

“Die klagte skep ʼn gevaarlike situasie en dit kan nie bekostig word dat onregverdigheid en dubbele standaarde so blatant toegepas word deur ʼn sekere groep mense in Suid-Afrika teen die landbougemeenskap en boere in die besonder nie. Dit wek die indruk dat daar ʼn rassistiese ondertoon is wat die rede is vir die ernstige klagte.”

Die VF Plus sal eis om verduidelikings en antwoorde om helderheid te kry oor die saak.

Pienaar is Woensdag in hegtenis geneem in verband met Dinsdag se gebeure by die Senekal-landdroshof waar Sekwetje Mahlamba en Sekola Matlaletsa vir die moord op Brendin Horner verskyn het. Hordes mense het na die hof opgeruk en gemoedere het in ʼn stadium hoog geloop waarna ʼn polisievoertuig onder meer omgestoot is en dit aan die brand geraak het.

Nadat dit duidelik geword het dat niemand die beskuldigdes gaan sien nie en dat die saak tot 16 Oktober uitgestel is, het ʼn groep mense die hof binnegestorm. Skote is in die hofgebou gehoor.

Die 21-jarige Horner se liggaam is verlede Vrydagoggend vroeg in ʼn veld op ʼn plaas in die omgewing van Paul Roux in die Vrystaat aangetref.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

60 Kommentare

jongste oudste gewildste
Pieter

Ek stem saam met dr Groenewald.

Lee

Wat verwag hulle, as jy mense se onskuldige kinders begin vermoor en aan pale vasmaak, wie het dit begin?
Dit is reaksie op aksies van misdadigers en misdade van n dekade wat duidelik aangehits word deur politieke partye. Die feit dat borg geweier is, is ook nie reg nie.
Dit is uiters duidelik dat daar nou, soos Vicky Momberg (wat ook deur geweld geraak is) n voorbeeld van die boer (wat hard werk en wie se lewe elke dag in gevaar is, net omdat hy n boer is wat kos voorsien aan sy land) gemaak word.

Trotse Boervrou

Die skrif is aan die muur.

Flip

Stem 100% saam. Die hoofrede hiervoor is dat hulle bang is vir die blankes om op te staan vir hulle regte. Genoeg is GENOEG!

Jacobus

Stupidity het nie brieke nie! Lyk my ook na een groot siviele eis!