Senekal: Bloed van drie mans in Horner se bakkie gekry  

Brendin Horner (21), ‘n plaasbestuurder, is wreed vermoor. (Foto: Facebook)

Brendin Horner (21) het volgens die nadoodse ondersoek steekwonde aan sy kop, skouer, arm asook aan sy hande gehad.

Kapt. Gerhardus Myburgh, verbonde aan die polisie se speurtak op Senekal, het Vrydag in die dorp se landdroshof getuig dat Horner ook skraapmerke gehad wat daarop dui dat hy oor die grond gesleep is, terwyl die amptelike oorsaak van dood as verwurging aangedui word.

Myburgh het getuig tydens die borgtogaansoeke van Sekwetje Mahlamba (32) en Sekola Matlaletsa (44). Die twee word beskuldig van die moord op Horner, ʼn plaasbestuurder van die Paul Roux-omgewing in die Vrystaat. Hulle staan ook tereg op ʼn aanklag van roof.

Volgens Myburgh voer getuies aan dat albei beskuldigdes en ʼn derde persoon op die oggend ná die moord gesien is waar hulle stap uit die rigting van die berg in die omgewing van die moord. Volgens die getuie was hul klere bloedbevlek.

Myburgh het aan die hof gesê Horner se voertuig is sowat 13 km van die moordtoneel op die pad tussen Paul Roux en Bethlehem gevind.

Volgens Myburgh is sommige verklarings nog uitstaande en die ontleding van bloedmonsters en vingerafdrukke moet nog afgehandel word.

Myburgh het getuig dat Matlaletsa verskeie vorige veroordelings het. Dit sluit in veediefstal, waarvoor ʼn opgeskorte vonnis van ses maande opgelê is, huisbraak waarvoor hy 18 maande tronkstraf opgelê is en betreding waarvoor hy ʼn skulderkenningsboete van R50 betaal het.

Sekwetje Mahlamba. Foto: Christel Cornelissen

Myburgh het getuig hy is ook bewus dat Mahlamba ʼn saak van veediefstal hangend teen hom het.

Volgens die speurder is hy nie ten gunste van borgtog vir die twee nie.

“Hierdie voorval het tot so ʼn mate onrus op Senekal veroorsaak dat daar mense was wat probeer het om applikante een en twee uit die aanhoudingselle hier by die hof te haal.

“As hulle dit reggekry het om die mense uit die selle te haal, glo ek nie dat applikante een en twee vandag hier sou gestaan het nie,” het Myburgh voorts getuig.

Hy het gesê die getuies wat reeds verklarings by die polisie afgelê het, vrees boonop vir hul lewe.

Adv. Jacques Harrington, staatsaanklaer, het aan Myburgh gevra hoe die twee mans met die moord verbind word as die twee onafhanklike getuies wat verklarings afgelê het Horner nie by name genoem het as die persoon wat hulle gehoor het is aangeval nie.

Sekola Matlaletsa. Foto: Christel Cornelissen

Myburgh het gesê die feit dat die neem van die voertuig en die beursie van die slagoffer genoem is, asook die feit dat hulle verwys het daarna dat die slagoffer met ʼn tou aan ʼn heiningpaal vasgemaak is, net na die aanval op Horner kon verwys.

Horner se beursie is steeds nie gevind nie.

Myburgh het ook getuig ʼn private speurder het bloedmonsters wat in Horner se bakkie geneem is na ʼn laboratorium vir ontleding gestuur. Die voorlopige bevinding is dat dit die bloed van drie verskillende mans is.

Intussen word daar steeds gewag op die uitslag van die ondersoek na die twee beskuldigdes en Horner se selfoon, asook van vingerafdrukke wat geneem is.

Die saak word Dinsdag voortgesit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Kokerboom ·

Bid dat geregtigheid geskied en dat skuldiges aan die pen ry

Wikkelwillie ·

Geen pen is lank en skerp genoeg nie. Die doodstraf sou van toepassing wees

Persheks Adri ·

Nog meer bewyse! Mag hulle vir ewig sit en die sleutels weg gooi.

Rus in vrede Brendin Horner! Ons harte is stukkend vir jou en elke boer.

#Boere lives matter!

JohanR ·

Ek kan dit verstaan, en miskien nie verstaan. As ‘n speurder naby is om ‘n reeks moordenaar was te trek, en iemand kom en stry daaroor dat die speurder nie die ou moet of mag vastrek nie, al weet die speurder presies wie dit is. Nou hier kom die EFF met plaasmoorde wat almal wil he moet op een of ander manier stop gesit word en stry dat die moet aangaan. My verluiking is miskien swak, maar hoop julle kry die kap van die byl. Hoekom wil die EEF he dat moord, doodslaan, verkragting, vernedering. marteling moet aanhou en aanhou? As vandag een ding mooi uitgewys het is dat die EFF is nou die militere vleul van die ANC. As ons dit gedink het tot vandag toe, weet ons nou verseker. Boere daar is NIEMAND na vandag om julle te hulp nie, beveilig die plaas, beveilig die plaas huis, beveilig elke persoon in daai plaas huis. Maak seker dat elke persoon in daai plaas huis weet hoe om te skiet, en elkeen het ‘n geweer en dra dit ALTYD!

Cherokee ·

Mense kan nie gewere altyd by hulle dra nie. Buite die kwessie. Weet jy wat weeg ‘n geweer? Dit sal met geweerbande oor die skouer gedra moet word.

Frikkels ·

Hoekom word plaas moordenaarss se politieke verbintenisse nie ondersoek, sodat hulle aan ñ spesifieke politieke party verbind kan word nie? Dan moet die regering mos “besef” wat besig is om te gebeur. Maar nee, ons boere word eerder as terroriste aangekla, terwyl die rooipetters die werklike terroriste met die regte agtergrond daarvoor is!

agnes ·

Maak die EFF n geregistreerde terrroriste organisatie want dit is wat hulle is

Riaana ·

Al wat ons kan se is R. I. P Bredin.. Jou dood sal n verskil maak mag jy in vrede rus by Jesus se voete????????????

Dolf ·

Kom ons doen die volgende, luister mooi. Kom ons nooi Julius Maleka tot n open are debad. Dan vra ons hom om openlikte se te se ten anhoor van almal, waarom moet die boere van ons land uitgemoor word soos hy met sy aangangers sing, en wat gaan gebeur as die boere uitgemoor is soos wat hy en sy EFF vir hulle aangangers vertel?

agnes ·

Alles vooraf beplan. Bring terug die doodstraf. Ons wil Hulle beslis nie verder versorg in ons tronke nie, hulle kom tog weer uit en moor weer.

Charmaine ·

Hulle gaan lewens lank kry en ‘n lekker lewe in die tronk hê. Alles op die belasting betaler se geld. Die dood straf moet terug gebring word word vir gemors soos die 2.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.