Senekal-man ‘lieg’, sê staat

(Foto: Anja van der Merwe/ Maroela Media)

“U is ’n leuenaar.”

Só het die staatsaanklaer, adv. Danie Pretorius, Donderdag in die rondgaande hof in Bethlehem, Vrystaat, tydens kruisondervraging aan Abraham Fourie (54) gesê.

Die staat het dit aan Fourie gestel dat hy die hof gaan vra om Fourie se getuienis te verwerp omdat dit nie met die ander getuienisse, waaronder dié van die patoloë, strook nie. Pretorius het Fourie se getuienis in die hof bevraagteken en aangevoer dat hy dit “aanpas”. Hy het ook daarop gedui dat die feite wat Fourie vroeër aan sy regsverteenwoordiger gegee het, nie ooreenstem met die feite wat hy tydens sy getuienis gelewer het nie.

Pretorius het aan die begin van die kruisondervraging vir Fourie die geleentheid gegee om sy getuienis te verander, maar Fourie het volgehou dat dit die waarheid is.

Fourie staan tereg op die moord van sy lewensmaat, Maryna Venter (49). Haar verminkte en gebrande liggaam is op 13 Junie in die paar se huis in Waterstraat, Senekal, aangetref. Volgens die nadoodse verslag is Venter met warm water gebrand en het sy noodlottige borsbeserings opgedoen.

Hy het Woensdag getuig dat hy kunsmatige asemhaling (KPR) op sy lewensmaat toegepas het, totdat hy een van haar ribbes hoor kraak het. Dit is dan waar die beserings aan haar bors vandaan sou kom.

Pretorius het dié verduideliking egter verwerp.

“Volgens die mediese getuienisse moes Venter die borsbeserings opgedoen het toe sy nog geleef het. Sy het bloeding getoon en ’n mens kan net bloei as jou hart klop,” het Pretorius gesê.

Dit het in Maart ook in die hof uitgekom dat Fourie impliseer dat Venter haar eie lewe geneem het. Volgens die twee patoloë wat in die hof getuig het, is dit onmoontlik dat ’n persoon hom- of haarself met water kan doodbrand weens die liggaam se refleksiesisteem.

Ander getuies, onder wie Venter se ma, het in Maart getuig Venter was vreesbevange vir Fourie omdat hy haar na bewering aangerand het. Fourie het egter vroeër die week ontken dat hy ooit sy hand vir Venter gedurende die paar se nege jaar lange verhouding gelig het.

Pretorius het daarop gewys dat Fourie se feite teenstrydig is met dié van die getuienisse – wat met mekaar ooreenstem. “Dit is nie toeval dat dié getuienisse dieselfde inligting oor die beweerde aanrandings weergee nie,” het Pretorius gesê.

Fourie het getuig dat Venter te veel gedrink en selfs epileptiese toevalle gekry het, waartydens sy sou val en haarself beseer. Pretorius het hierdie getuienis óók betwis en sê die staat wil argumenteer dat Fourie die storie van die epileptiese toevalle versin het om ’n rede vir Venter se beserings te verskaf.

Pretorius het ook namens die staat aangevoer dat Venter se beserings ontstaan het ná sy by Fourie betrokke geraak het.

Pretorius het tydens die ondervraging ook na Fourie as baie “argumenterend” beskryf en gesê hy werk nie saam om die vrae korrek te beantwoord nie. Fourie se regsverteenwoordiger het hom Woensdag gevra hoe hy voel oor die staat se bewerings dat hy Venter doodgemaak het. Hy het geantwoord dat hy niks het om te baat as Venter nie daar is nie.

“Ek en Maryna het nie pensioenplanne gehad nie en ons ondernemings sal nie sonder Maryna kan voortbestaan nie. Dit sou ook nie nodig wees om haar dood te maak om van haar ontslae te raak nie,” het Fourie gesê.

“Sy was my beste maat, en nou is sy weg.”

Die verdediging het Vrydag sy saak gesluit en die saak is tot 20 Junie uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Swerwer ·

Geen genade, mag hy gestraf word vir wat hy aan Maryna gedoen het. Hy probeer seker Zuma na-aap en dink hy sal ook los kom.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.