Senekal-man ontken aanrandings

Abraham Fourie word aangekla van die moord op sy lewensmaat, Maryna Venter. (Foto: Anja van der Merwe/ Maroela Media)

Abraham Fourie (54) het Dinsdag in die rondgaande hof in Bethlehem in die Vrystaat ontken dat hy ooit sy hand vir sy lewensmaat, Maryna Venter (49), gelig het.

Dit nadat verskeie mense getuig het dat Venter vreesbevange was vir Fourie omdat hy haar na bewering aangerand het.

“Dit is absolute onsin,” het Fourie keer op keer in die hof gesê wanneer hy oor die beweerde aanrandings ondervra is.

Fourie staan tereg op die moord op Venter en sy verhoor het reeds op 7 Maart begin. Venter se verminkte en erg gebrande liggaam is op 13 Junie in die paartjie se huis in Waterstraat op Senekal aangetref. Volgens die nadoodse verslag is Venter met warm water gebrand.

Uit vorige getuienis van Venter se ma, Jacomina Elizabeth Erasmus (76), en haar buurvrou, Susanna Mynhardt (58), het Venter gereeld “lelike beserings” aan haar gesig gehad. Venter sou volgens die getuienis nie erken het dat Fourie haar aanrand nie.

Erasmus en Mynhardt het getuig dat hulle deur die loop van die paartjie (Venter en Fourie) se nege jaar lange verhouding gesien het hoe Venter agteruitgaan.

Fourie het in die hof erken dat Venter oor die jare agteruitgegaan het, maar aangevoer dat dit weens haar alkoholmisbruik was.

Fourie het tydens sy getuienis aangevoer dat Venter te veel drink en selfs epileptiese toevalle gekry het, waartydens sy sou val en haarself beseer. Hy het aangevoer dat Venter alkohol misbruik het wanneer hy weg was met die vragmotor. Hy het toe as vragmotorbestuurder gewerk.

“Sy was lief vir enigiets. Wyn was die groot sondebok [sic]. Ek het altyd probeer dat sy eerder saam met my in die vragmotor ry sodat sy nie by die huis kan bly en drink nie,” het Fourie getuig.

‘n Foto van Abraham Fourie en Maryna Venter in 2018 (Foto: Brahm Fourie, Facebook)

Volgens Fourie sou Venter nuwe beserings opgedoen het wanneer hy met die vragmotor teruggekeer het huis toe. “Sy het al haar stuitjie gebreek, haar kop oopgeval en beserings aan haar gesig opgedoen.”

Toe Fourie tydens die kruisondervraging gevra is waarom hy nie vir Venter gelos het oor haar beweerde drinkprobleem nie, het hy gesê dat hy haar lief gehad het. “Sy was my regterhand en my lig. Ek het als probeer om haar te laat ophou drink. Ek het verskeie kere met haar gepraat en dan sou sy belowe om op te hou drink. Ons was van plan om te trou, ek het selfs ʼn ring vir haar laat maak.”

Fourie getuig hy het probeer om vir Venter hulp vir “haar alkoholprobleem” te kry.

Erasmus het vroeër getuig Fourie sou hulle telkemale bel en sê hulle moet Venter kom haal omdat sy te veel gedrink het. Volgens Erasmus se getuienis sou Venter na bewering dan weier om saam met haar (Venter) ouers te gaan. “Sy het wel nooit vir haarself gepraat nie. [Fourie] het altyd gepraat. Sy het ook nooit vir my dronk gelyk of na drank geruik nie,” het Erasmus in Maart getuig.

Fourie het ook getuig dat Venter twee keer epileptiese aanvalle gehad het, waartydens sy haarself beseer het. “Sy het een keer buite op die stoep stuiptrekkings gekry en ʼn ander keer in die bad. Ek het haar kop onder die water aangetref en haar betyds gered.”

Erasmus het vroeër in haar getuienis gesê sover haar kennis strek, het haar dogter nie aan epileptiese toevalle gely of medikasie daarvoor gebruik nie.

Fourie het ook ontken dat hy vir Mynhardt in 2009 aangerand het. Mynhardt het vroeër getuig dat Fourie haar van agter met sy regterarm om haar nek gegryp het. Volgens Mynhardt het sy in die proses haar bewussyn verloor.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Mariaan ·

Ek glo nie n woord uit hierdie man se mond nie!! Wie brand jouself met kookwater..nee wat..shame..arme vrou..moes n helse lewe saam met die man gewees het

JohanEtz ·

Ek was 20 jaar gelede met so selfvernietigende vrou getroud – na 2 jr hel, geskei – kon haar nie help nie – sy is sedertdien al 2x geskei…..

Deon ·

n Lewens maat met ernstige drank probleme “drink hom/haarself elke aand tot n stilstand” is n verskriklike moeilike situasie, daardie mense is nogals geneig om meer gereeld as die normaal in n deur, kas, boom en selfs n” oop” kardeur in vas te loop….. Waarom het sy nie vir haar mense gese sy word geslaan nie? Hoe dit ookal sy, onnodige verlies van lewe

Ruby ·

Op die foto kan jy ook sien sy het ‘n besering aan haar lip.

Retha ·

Hy lieg blatant. Hierdie arme vrou moes ‘n helse lewe saam met hom gehad het-ek hoop regtig ons “regstsel” sal hom aan die kaak stel.

ES ·

Die staat moet bewys dat hy dit gedoen het.

Ek is ‘n draadsitter in hierdie geval want ek het self gesien dat dit moontlik is dat mense dit aan hulself doen.

‘n Klomp jare terug het ‘n loseerder vir ‘n kort tydperk by ‘n familielid gebly. Sy was elke aand dronk en het telkemale by trappe afgeval, in goed vasgeloop, badwater ingetap, ingeval en haarself gebrand en selfs sommer net in die loop op vloere neergeval van dronkenskap. Ek het dit self gesien. Sy het permanent gelyk asof sy mishandel was. Haar ouers, wat ver weg gebly het, het nie eens daarvaan geweet totdat hulle in kennis gestel was nie.

samantha ·

Ek hoor wat jy se ja. Mar ”iemand het haar aan die hare van die badkamer na die slaapkamer gesleep.

Lillian ·

Sy is nie meer hier om haarself te verdedig nie …. maar ek dink dié ou skiet spek!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.