Senekal-moord: ‘Hou dié boodskappe vir as ek doodgaan’

Maryna Venter (Foto: Brahm Fourie, Facebook)

“Ma, stoor hierdie boodskappe vir as ek eendag wegraak. Hy het vir my gesê hy gaan my vrek maak en my iewers dump.

Só het Maryna Venter (49) vier dae voor haar dood aan haar ma, Jacomina Elizabeth Erasmus (76), in ʼn stemboodskap op WhatsApp gesê. In die boodskap verwys sy na haar lewensmaat, Abraham Fourie (52), wat teregstaan op haar moord en tans verhoor word.

Dit was Sondag presies nege maande sedert Venter se liggaam in die paartjie se huis in Senekal in die Vrystaat gevind is. Haar liggaam was vol brandwonde.

Erasmus het Maandag in die rondgaande hof in Bethlehem getuig dat haar dogter nooit in persoon aan haar en haar man, Adriaan Willem Erasmus, erken het dat Fourie haar aanrand nie. Sy het egter op 8 Junie deur middel van stemboodskappe aan Erasmus vertel van haar “blou en stukkende oog”. Sy het indirek erken dat Fourie haar geslaan het toe Erasmus haar daaroor pols. Sy het ook foto’s van haar gesigwonde vir haar ma gestuur.

Erasmus het in ʼn stemboodskap reageer dat hulle ʼn aanrandingsaak teen Fourie kan maak, maar Venter het gesê sy wil dit nie doen nie, omdat sy “lief is vir hom”.

Abraham Fourie in die rondgaande hof in Bethlehem [Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media]

Venter het in die boodskappe haar ma gesoebat om die “slanery” te los. Sy het ook haar ma gevra om die boodskappe en foto’s te hou “vir as sy doodgaan” en “dan kan hulle ʼn moordsaak oopmaak”.

Erasmus sê sy het deur die loop van die paartjie se nege jaar lange verhouding gesien hoe Venter agteruitgaan. Volgens haar het Venter altyd ʼn blou oog of stukkende lip gehad.

“Maryna het in ʼn stadium vir my gesê sy het net sewe tande in haar mond oor. Maar sy het nooit gesê waarom nie.”

Erasmus en vorige getuies in die saak het ook getuig dat Venter sig in haar een oog verloor het.

Volgens haar het Fourie aangevoer dat Venter te veel drink en selfs epileptiese toevalle gekry het, waarna sy sou val en haarself beseer. Erasmus sê sover haar kennis strek het haar dogter nie aan epileptiese toevalle gely of medikasie daarvoor geneem nie.

“Ek kan ook nie dink dat jy elke keer jou gesig só sal oopval of jou oog potblou sal wees van die val nie.”

Dié klein en fyn vroutjie bly koel en kalm terwyl sy haar getuienis lewer en kyk glad nie in Fourie se rigting nie. Hoewel sy buite die hof aan Maroela Media gesê het dat sy baie hartseer is, het sy heeltemal in beheer voorgekom in die getuiebank.

‘Kom haal jul dogter’

‘n Foto van Abraham Fourie en Maryna Venter in 2018 (Foto: Brahm Fourie, Facebook)

Erasmus getuig Fourie sou hulle telkemale bel en sê hulle moet Maryna kom haal omdat sy te veel drink. “Wanneer ons daar kom, sou sy dan weier om saam met ons te gaan. Sy het wel nooit vir haarself gepraat nie. (Fourie) het altyd gepraat. Sy het ook nooit vir my dronk gelyk of na drank geruik nie.”

Volgens Erasmus het ʼn buurvrou – toe die paar in die Dennehof-woonstelkompleks in Bethlehem gewoon het – haar in 2017 gekontak en gesê sy moet Maryna gaan haal, want “Fourie gaan haar doodslaan”.

Susanna Mynhardt, wat nog in die saak moet getuig en ook in Dennehof gewoon het, het twee jaar later dieselfde vir Erasmus gesê. Mynhardt het hulle ook aangemoedig om nie alleen te gaan nie, “omdat Fourie gewelddadig is”.

Erasmus vertel van 2019 af het Fourie haar en haar man, hul twee seuns (Venter se broers) en Venter se kinders, belet om Maryna te besoek. “Ons moes eers ‘toestemming’ kry.”

Maryna het twee seuns uit ʼn vorige huwelik, wat sy laas in 2017 gesien het.

Erasmus het slegs op WhatsApp met Venter gekommunikeer. “Wanneer hy (Fourie) by die huis was, het ek en Maryna nie baie kontak gehad nie. Volgens [Maryna] het hy meestal haar foon gehad.”

Erasmus getuig Venter het nooit oor selfmoordneigings of van selfmoord gepraat wanneer hulle gesels het nie.

Volgens Erasmus het Fourie ook nooit goed van hulle familie gepraat nie en daar was geen verhouding tussen hulle nie. “Hy het geen respek vir enigiemand gehad nie. Hy het altyd net lelike goed vir ons te sê gehad.”

Venter se pa het buite die hof aan Maroela Media gesê sy dogter “is nou op ʼn beter plek as saam met hom (Fourie)”. Hy het ook Maandag die hofsaak bygewoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Perdeby ·

Hy lyk sommer na ‘n tappet! Wonder hoekom het sy so geklou aan hom? en toegelaat dat hy haar so mishandel.

Maritza ·

Mans soos daai is so oortuigend dat hulle die vrou laat voel sy verdien wat sy kry. Soms is dit vrees

Di ·

Hy sal wel sy dag kry – of dit nou hier in ‘n tronk is of die dag wanneer hy hierdie aarde verlaat. Hy sal dan rekenskap aan die hoogste gesag moet gee, daar kan hy nie lieg nie.

Marius ·

Dit is onverstaanbaar dat vrouens gewillig is om ‘n man se slaansak te wees of selfs die ontvanger te wees vir verbale mishandeling. Ter wille van jouself, los die gemors en begin ‘n nuwe gelukkiger lewe.

piet ·

Beslis en dit lyk ook nie asof ons hier ‘n geval gehad het dat sy ekonomies afhanklik was van hom nie. Bly maar ‘n misterie hoe vrouens in hierdie omstandighede aanbly……

Ratel ·

Ek kon dit ook nooit verstaan nie. Ons het ook n vriendin wat n soortgelyke lewe deurgaan. Elke keer as ons haar weg vat, gaan sy maar net weer terug want “sy is lief vir hom” en sy wil ook glad nie n saak by die SAP aanmeld nie. dit gaan al vir 7 jaar so aan.

VaalDonkie ·

Ja ek verstaan ook nie. MAAR aan die ander kant het ons my ma wat wel ‘n saak wou gaan maak, maar toe lag die polisie daar by Kuilsrivier haar uit en toe my stiefpa daar aankom, toe maak hulle grappies saam met hom.

Cecilia ·

@VaalDonkie Ek spesialiseer met sulke sake in daardie omgewing. Ons moet dalk bietjie gesels.

VaalDonkie ·

@Cecilia, toemaar dis darem al 20 jaar gelede se ding. Maar ek waardeer. Sy bly nou nog by my. Ek het ‘n huis gekoop met ‘n aparte woonstel vir haar.

Marthinus W ·

Partykeer is jy vasgevang: ekonomies, sosiaal, sodat jy nerens het om heen te gaan nie. Clarabelle van Niekerk het n liedjie “Sy’s lief vir hom” daaroor geskryf. Daar is mans wat in soortgelyke situasies is.

ES ·

Die slagoffers van sulke omstandighede word sielkundig afhanklik van hul maats wat so optree. Hulle word gebreinspoel om te dink dat hulle die probleem is en dat hulle hulself moet verander. Dit gebeur in 90% van sulke gevalle.

Swerwer ·

Dit is so eienaardig dat mense wat in ‘n verhouding /getroud is en deur hul lewensmaat verbaal of fisies aangerand word nie afstand kan doen van so ‘n persoon nie. Eers as jy uit so ‘n verhouding/huwelik kan wegkom/uitkom en die herstelpad gevolg het, dan besef jy eers wat regtig aan die gang was.

Danny ·

Sjoe, en daar is die hele sak patats nou uit.. Tragies. Mense moet leer wat mishandeling is en hoe om dit te hanteer. Ons as vroue is ook te sag en te onderdanig in daai opsig. Hoop hulle kry hul dag van verootmoediging en dat geregtigheid sal geskied.

KatjieDeKat ·

En om polisie toe te gaan help ook nie veel nie. Skei of kom net weg, sover jy kan, en bly weg.

Anna ·

Dis hartseer. Soveel vroue wat nooit die keuse maak om weg te loop van so verhouding nie en dan so opeindig.

Willem ·

Hulle moet die stuk drek ver weg bêre, hy moet eintlik nooit weer daglig sien nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.