Senekal-moord: Selfmoord met warm water ‘nie moontlikheid’ – patoloog

Abraham Fourie se verhoor het Maandag in die hof in Bethlehem afgeskop (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Dr. Herman Eben van Schalkwyk, wat verlede jaar die nadoodse ondersoek op Maryna Venter (49) se liggaam gedoen het, het Maandag in die rondgaande hof op Bethlehem getuig dat Venter nié haarself met warm water sou kon gebrand het nie.

Toe die staatsaanklaer, adv. Danie Pretorius, vir Van Schalkwyk vra of Venter haar om die lewe gebring het deur haarself met warm water te brand, het hy geantwoord dat dit volgens hom nie ʼn moontlikheid sou kon wees nie.

“Al hoe sy só met warm water kon brand, is indien iemand haar forseer het om onder die warm water te bly,” het Van Schalkwyk getuig.

“Weens die liggaam se refleksiesisteem, sal ’n persoon outomaties weens sy of haar refleksies uit die warm water klim indien hy of sy voel die water is té warm. Die menslike refleksiesisteem kan temperature tot tussen 20 °C en 40 °C hanteer. Bo dié temperature sal jou refleksies inskop.”

Volgens Van Schalkwyk het hy in sy 56 jaar as patoloog nog nooit met ’n geval te doen gekry waar ’n persoon hom- of haarself met warm water doodgebrand het nie.

Venter se lewensmaat, Abraham Fourie (52), staan tereg op Venter se moord en word tans verhoor.

Hy ontken skuld en voer aan dat Venter haar eie lewe geneem het en dat hy net op haar liggaam in die paartjie se huis in Waterstraat, Senekal, afgekom het.

Venter se verminkte liggaam is op 13 Junie in die slaapkamer van die huis aangetref. Sy het erge brandwonde oor haar hele liggaam gehad.

Fourie het verlede Maandag in sy pleitverduideliking gesê hy het Venter dood in die slaapkamer op die grond aangetref het. Haar kop was glo vooroor gebuig en volgens Fourie het sy ʼn bottel brandewyn in die hand gehad.

Fourie het aan die polisie gesê hy het kunsmatige asemhaling (KPR) op haar probeer toepas, maar sy het glo geen teken van lewe getoon nie.

Die nadoodse ondersoek bevestig die oorsaak van Venter se dood is veelvoudige trauma‑beserings en omvattende brandwonde.

Luidens die nadoodse ondersoek wat Van Schalkwyk saamgestel en in die hof voorgelees het, het Venter erge brandwonde aan 48% van haar liggaam opgedoen. Dit wissel van tweede- tot derdegraadse brandwonde.

‘n Foto van Abraham Fourie en Maryna Venter in 2018 (Foto: Brahm Fourie, Facebook)

Van Schalkwyk het getuig die brandwonde is nie deur vlamme veroorsaak nie, maar ’n warm vloeistof, soos warm water.

Die hof het die warmwaterbron moontlik as die stort in die paar se huis geïdentifiseer ná afloop van forensiese kundiges wat die warm water in die stort op sy warmste teen 60 °C gemeet het. Van Schalkwyk het op grond van ander kundigheidsgetuienis aan die hof gesê dat warm water teen 60 °C binne drie sekondes se blootstelling daaraan erge brandwonde aan ’n persoon kan veroorsaak.

Van Schalkwyk het met sekerheid gesê dat Venter die brandwonde voor haar dood opgedoen het.

Tydens die nadoodse ondersoek het Van Schalkwyk ook kneusplekke aan die sternum, hart en longe geïdentifiseer en haar hart was vergroot. Daar was ook frakture aan Venter se linker- en regterkantse ribbes.

Van Schalkwyk het tydens kruisondervraging daarop gewys dat die kneusplekke op die sternum en selfs die gekraakte ribbes moontlik deur die toepassing van KPR veroorsaak kon word – veral deur iemand wat nie voldoende opleiding daarin het nie.

“Die erge kneusing van die hart kan tot disritmie van die hart lei en dan daartoe lei dat die hart eindelik gaan stilstaan,” het Van Schalkwyk getuig.

Van Schalkwyk noem die moontlikheid dat die hart ook kon gaan stilstaan weens die brandwonde en die skok wat dit op die liggaam gehad het.

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Di ·

Dis afskuwelik, dis net ‘n monster wat dit aan iemand kan doen – Hoop dat die moordenaar lewenslank tronkstraf kry!

Gerhard ·

ja, ek stem saam, dit is afskuwelik. Die ding is, lewenslank is nie meer lewenslank nie, so, daardie monster sal weer rondloop, wat gladnie die geval moet wees nie. Jissie, as die regstelsel net weer voorsiening kan maak vir die doodstraf en dit toepas. Geen mens verdien om te lewe nadat hulle self iemand se lewe geneem het nie. Ek is seker onsensitief of wat ookal, maar regtig.

FM ·

daar is ‘n beter opsie.

hierdie regering wil nie wakker skrik nie

Pannies ·

Bring die doodstraf terug. Die belastingbetaler kan nie al die skuim lewenslank onderhou nie.

Annetjie ·

Ek voel ook so maar met al die korrupsie in hierdie land sal die doodstraf beslis nie reg toegepas word nie.

Tanya ·

So as ek reg verstaan……(volgens sy storie) het sy haarself verbrand onder die water, toe kamer toe geloop en langs die bed gaan sit en brandewyn drink…. sy weergawe maak glad nie sin nie! Hy lieg homself in ‘n hoek in.

Toetsie ·

‘n Blinde kan met n stok aanvoel dat hierdie man lieg van voor tot agter! Sluit hom toe sonder enige voordele! Net soos ander moordenaars van vroue en ons blanke mense… Wens regtig ons regsstelsel kan meer konstant en streng wees VIR ALMAL!

Swerwer ·

Dit is wreed verby………en dan word daar nog gejok sonder om ‘n oog te knip

Yvonne ·

Wat n tragedie, om so gemartel te word, die man is gevaar, afskuwelike leuenaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.