Senekal-moord: Vraagtekens oor KPR as oorsaak van borstrauma

Abraham Fourie word aangekla van die moord op sy lewensmaat, Maryna Venter (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

Dr. Chantelle Liebenberg, ’n forensiese patoloog, sê hoewel kunsmatige asemhaling (KPR) nie uitgeskakel kan word as moontlike oorsaak van die trauma aan wyle Maryna Venter (49) se bors nie, pas dit nie vir haar heeltemal in by die erns van haar beserings nie.

Volgens Liebenberg kon die trauma óf veroorsaak word deur iemand wat KPR probeer uitvoer het, maar geen benul gehad het wat hy of sy moet doen nie, óf die KPR is baie kragtig uitgevoer deur ’n “groot, sterk” persoon wat sy of haar volle gewig op die slagoffer geplaas het.

“Die trauma aan die bors is eerder soortgelyk aan dié wat in ’n motorongeluk veroorsaak kan word – en die pasiënt word met groot krag op die bors gedruk; óf indien iemand met sy of haar volle gewig op jou bors spring of trap,” het Liebenberg getuig.

Liebenberg het Dinsdag by die rondgaande hof in Bethlehem in Venter se moordsaak getuig. Sy het ’n verslag saamgestel vir ’n tweede kundige mening oor die lykskouingsverslag wat deur dr. Herman van Schalkwyk saamgestel is. Van Schalkwyk het Maandag oor sy verslag in die hof getuig.

Volgens die nadoodse ondersoek is kneusplekke aan Venter se sternum, hart en longe geïdentifiseer en haar hart was vergroot. Daar was frakture aan haar linker- en regterkantse ribbes. Sy het ook ’n oop wond op haar neusbrug gehad.

Die beskuldigde in die saak en Venter se lewensmaat, Abraham Fourie (52), het vroeër gesê hy het kunsmatige asemhaling (KPR) op Venter probeer toepas, nadat hy op 13 Junie op haar liggaam in die paar se huis in Senekal afgekom het. Volgens hom het sy ondanks die KPR helaas geen teken van lewe getoon nie.

Maryna Venter (Foto: Brahm Fourie, Facebook)

Fourie se regsverteenwoordiger het Maandag die moontlikheid dat die kneusplekke aan die sternum, hart en longe, asook gefraktuurde ribbes deur KPR veroorsaak kon word, opgehaal. Van Schalkwyk het tydens kruisondervraging daarop gewys dat dit wel daardeur veroorsaak kon word – verál deur iemand wat nie voldoende opleiding daarin het nie.

Liebenberg het Dinsdag Van Schalkwyk se bostaande stelling bevestig.

Toe die staatsaanklaer, adv. Danie Pretorius, genoem het dat Fourie wel in 1994 KPR-opleiding ontvang het, het Liebenberg se deuntjie oor die feit dat die KPR die trauma kon veroorsaak het, verander.

“As jy een keer in jou lewe KPR-opleiding ontvang – maak nie saak hoeveel jare gelede nie – sal jy steeds weet hoe om dit te doen en hoe hard om op die pasiënt se bors te druk,” het Liebenberg getuig.

“My een dosent het altyd gesê as jy nie een ribbebeen breek tydens KPR nie, doen jy dit verkeerd. Maar in hierdie geval is dit meer as een ribbebeen en die frakture sit ver aan die kante van die bors. Die persoon sou tydens KPR duidelik kon hoor as een rib gebreek het, en sou volgens verwagting die KPR gestaak het. Dít is omdat die meeste mense skrik vir die geluid wanneer ’n ribbebeen breek.”

Liebenberg het dit uitgelig dat die erns van die beserings aan Venter se bors noodlottige beserings was en moontlik haar dood kon veroorsaak.

Brandwonde ‘nie self toegedien’

Liebenberg het verder Van Schalkwyk se getuienis – dat dit hoogs onwaarskynlik is dat Venter haarself met warm water gebrand en só haar eie lewe geneem het – beaam. Luidens die nadoodse verslag het Venter brandwonde aan 48% van haar liggaam opgedoen.

Liebenberg en Van Schalkwyk het albei getuig dat hulle nog nooit met ’n geval te doen gekry het waar iemand hom of haar met warm water doodbrand nie.

“Die feit dat die oorledene die brandwonde saam met die bors- en gesigbeserings gehad het, maak dit vir my nog meer onwaarskynlik dat dit selfdood was.”

Volgens Liebenberg is dit baie meer waarskynlik dat iemand haar met die water gebrand het, sonder dat sy beheer daaroor gehad het, of dat sy bewusteloos was.

Fourie se regsverteenwoordiger het tydens kruisondervraging daarna verwys dat daar 0,26 g alkohol per 100 ml bloed in Venter se liggaam was ten tyde van haar dood en dat dit haar moontlik só besope gelaat het dat sy nie geweet het wat sy doen nie.

Liebenberg sê met inagneming van Venter se geskiedenis met alkoholgebruik, kon sy met daardie alkoholinhoud in haar bloed nie besope genoeg gewees het om nié onder die warm water uit te beweeg nie.

“Selfs al was sy besope, sou haar refleksstelsel steeds ingetree het sodat sy instinktief uit die warm water beweeg het. Alkohol kan jou refleksbewegings vertraag, maar vat dit nie weg nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jackie

Rubbish

Marius

Sluit hom toe !!!

Lillian

Hy probeer om sy aandadigheid aan haar dood te minimaliseer. Vuilgoed.

Suzette

Hy is ‘n regte gemors!

Johanna

Herdie saak laat my naar word en maak my woedend.
Hoe durf die rot homself regverdig. Hy dink almal is onnosel en hy kan almal FOOL.
LOW BUDGET