Senekal sonder water weens ‘reën, vakansiedae’

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

ʼn Gedeelte van ʼn woongebied in die Vrystaatse dorp Senekal is nou al langer as drie weke sonder water nadat ʼn waterpyp in die gebied onklaar geraak het. Die herstel van die pyp word glo vertraag weens die talle vakansiedae in April, sowel as reënbuie wat die pyp ontoeganklik maak.

Waterbeperkings is niks vreemd vir inwoners van Senekal nie, aangesien beurtwater hier reeds jare lank ʼn instelling is, maar dié keer is die situasie onuithoudbaar, kla inwoners.

Volgens Irma Heymans, VF Plus-raadslid in die gebied, het die waterpyp wat die De Rust-woongebied bedien, vroeër vandeesmaand onklaar geraak nadat die grond wat die pyp ondersteun geheel en al weggespoel het.

Inwoners ry nou al vir weke lank kilometers ver vir water, net om basiese huishoudelike take te verrig, aangesien die watertenks wat die munisipaliteit stuur nie by almal uitkom nie.

Melissa Kapp, ʼn inwoner van De Rust, sê inwoners moet nou na boere in die omgewing ry om water te kry of ekstra betaal dat boere dit kom aflaai. “Ons leef basies uit kanne water uit.”

Dié gesin se geiser het ook reeds opgepak as gevolg van die tekort aan water wat daardeur loop.

Heymans sê sy stoei al vir ʼn geruime tyd om te help om die probleem op te klaar en lê gedurig op die Setsoto- plaaslike munisipaliteit se nekke hieroor.

“ʼn Kontrakteur is reeds besig om die omgewing rondom die pyp voor te berei sodat die pyp so gou moontlik herstel kan word,” sê Heymans. “Die nodige onderdele sal ook na verwagting in hierdie week afgelewer word.”

Daar was glo ʼn reuseoponthoud in die herstelwerk, aangesien die munisipaliteit eers goedkeuring moes kry om die kontrakteur aan te stel en die onderdele te bestel. Boonop het die talle openbare vakansiedae in die maand, asook aanhoudende reënbuie, verdere vertragings veroorsaak.

“Daar is baie mense wat as gevolg hiervan in ʼn hengse krisis gedompel is. Hoewel daar ʼn vragmotor met water is wat die ronde doen, het ek steeds oproepe ontvang van mense wat sê die trok het nooit by hulle ʼn draai gemaak nie,” sê Heymans.

Volgens Kapp gaan stort hulle daagliks by bure wat boorgate het en hergebruik hulle die water wat wel tot hulle beskikking is om onder meer toilette te spoel en klere mee te was.

“Ons kan darem plan maak om water in die hande te kry, maar wat word van diegene wat dit nie kan bekostig nie? My huishulp was nou maar al haar wasgoed by ons.”

Kapp sê hulle was in ʼn stadium só desperaat om water in die hande te kry, dat hulle selfs die afgelope naweek talle emmers buite gesit het om die reënwater op te vang.

Heymans sê die probleem lê beslis nie by die munisipaliteit nie.

“Die munisipale span wat die herstelwerk moet doen is uiters betroubaar en werk soms deur die nag om die skade te minimaliseer, dit is egter ʼn uitdaging as hulle nog wag op onderdele. Ek vertrou dat hulle binnekort die saak sal regstel.”

Hoewel die dorp se hospitaal ook afhanklik is van die waterpyp wat in die woongebied onklaar geraak het, sê Heymans dat die fasiliteit reeds vir ʼn geruime tyd goed toegerus is om wateronderbrekings te hanteer.

“Hulle het groot reservoirs en water word ook gereeld met ʼn vragmotor daarheen vervoer. Ek het tot dusver nog nie enige klagtes ontvang dat daar ʼn ernstige probleem is nie.”

Verouderde pype skep probleme

Een van die pype wat gebars het. (Foto: Melissa Kapp)

Die ouer gedeelte van die dorp gaan óók gereeld gebuk onder wateronderbrekings, omdat die verouderde waterpype bars weens die voortgesette toepassing van beurtwater.

Volgens Heymans kan die pype nie die hoë lugdruk hanteer wanneer die water afgeskakel en dan weer aangeskakel word nie. Dit veroorsaak dat die pype gereeld bars.

“Ek het tydens ʼn munisipale vergadering voorgestel dat beurtwater nie meer in dié gebied toegepas word nie, sodat die druk op die pype verlig kan word,” sê Heymans.

“Dit lyk nou asof die munisipaliteit hierdie voorstel gaan aanvaar.”

Dié woongebied is tans ook sonder water weens ʼn ander pyp wat gebars het, maar die munisipaliteit hoop dat die nodige onderdele binnekort afgelaai sal word sodat herstelwerk kan begin.

Maroela Media het navraag oor die waterprobleme aan die munisipaliteit gestuur, maar wag nog op terugvoer. Dit is dus nog nie duidelik wanneer inwoners se watertoevoer herstel sal word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Madz ·

Natuurlik is dit die reënweer en vakansie dae se skuld – NES ou Jan van Riebeeck… ai!

Nico ·

Moenie die baie reën die skuld gee nie dit is die munisipaliteit se swak instandhouding wat die oorsaak is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.