Senior aanklaer vas wat glo dossier ‘laat verdwyn’

(Argieffoto: Unsplash)

ʼn Hofbeampte van Oos-Londen wat glo omkoopgeld gevra het om saakdossiere te vernietig, is Maandag in hegtenis geneem.

Brig. Tembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder, sê die 50-jarige man – glo ʼn senior aanklaer – is aangekeer nadat berigte ontvang is oor verskeie dossiere wat sedert 2016 spoorloos by die landdroshof verdwyn het.

Die ondersoek het twee sake van dronkbestuur ingesluit. In een van die sake is die slagoffer gevra om R20 000 vir die vernietiging van die dossier te betaal.

“Die dossier het daarna verdwyn. Die polisie kon egter die dossier weer saamstel en was gereed om dit voor die hof te bring.”

Kinana sê die verdagte het daarna sy slagoffer oortuig om nog R5 000 te betaal sodat die gerekonstrueerde dossier óók vernietig kan word waardeur hy vervolging kon vryspring.

Die slagoffer het eindelik altesaam R25 000 betaal.

Die ondersoek is reeds in 2019 deur die polisie se teenkorrupsie-eenheid van stapel gestuur en volgens Kinana het die verdagte die polisie geruime tyd ontwyk. Hy is vandeesweek met behulp van lede van die misdaadintelligensie-eenheid en die taakspan in hegtenis geneem nadat ʼn lasbrief vir hom uitgereik is.

“Berigte van staatsamptenare wat betrokke is by korrupte bedrywighede is ontstellend,” het genl.maj. Thembisile Patekile, waarnemende provinsiale polisiehoof, gesê.

Patekile sê daar word van hierdie mense verwag om wette te handhaaf, die beeld en hulpbronne van die regering te beskerm en te verseker geregtigheid geskied en dienslewering word nie in die gedrang gebring nie.

“Dit is teleurstellend om te hoor dat juis hulle, wat soveel gesag het en mense is in wie vertroue geplaas word, op onskuldige en niksvermoedende burgers teer. Die reg moet sy gang gaan.”

Die man word aangekla van korrupsie en dwarsboming van die gereg en verskyn na verwagting Donderdag in die Oos-Londense landdroshof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Pieter ·

Niks snaaks nie dit gebeur elke dag in die siek ANC land. Welkom in afrika dit gaan orals so hulle leer by die menisters hoe word dit gedoen.

Nie Verbaas ·

Korrek, niks gebeur met presidente en ministers nie. ANC mos onaantasbaar. Net lip service

Eugene ·

Dit is omdat alles maande vat om te gebeur. Die skelms het al die tyd in die wêreld om hulle wandade te pleeg

Stefan ·

Straf hom met die hoogste straf moontlik en die dronk bestuurder ook.

Ou bees ·

Nou het hy die regte kwalifikasies om parlement toe te gaan

Zilla ·

Hoekom moet die slagoffer die omkoopgeld betaal? Moet dit nie die beskuldigde wees nie?

Riaana ·

Wat is nie skelm in hierdie land nie, in SA oorleef net die WAT skelm is, Als in SA is korrupt dis waar oor ons is waar ons is, in SA Sal jou melk uit jou koffie gesteel word as jy nie wyd kyk nie, ek kry vandag skaam om te se ek is n Suid-Afrikaner….

Nico ·

Senior aanklaer. Wat sou sy maandelikse salaris wees? Beslis genoeg om nie te hoef korrupsie pleeg nie.

SomeOne ·

waarom al die PAPIER werk, is elektronika nie al in plek om al die papierwerk te vervang nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.