Senior amptenare trap klei oor Guptas-burgerskap

Ajay en Atul Gupta (Foto: ANA)

Dit was soos om tande te trek – stadig, pynlik en ingewikkeld – maar die parlementêre portefeuljekomitee oor binnelandse sake het vandag aansienlik nader aan die vrot kol van staatskaping betreffende die Gupta-familie en die departement van binnelandse sake gekom.

In ʼn marathon-sitting vandag het die komitee eers die twee amptenare – Sikhakhane en Ramakgatle – wat die aanbeveling gemaak het dat burgerskap aan verskeie lede van die Gupta-familie toegestaan word, ondervra.

Jakkalsdraaie, breedsprakigheid, ontwykingstaktiek en die aanwend van ampstaal wat haas onverstaanbaar is vir die oningewyde was volop, maar teen die einde van daardie deel van die ondersoek was dit duidelik dat reëls en regulasies oortree is.

Daar was baie besonderhede, maar ontdaan van vernis is die feite rakende Sikhakane en Ramakgatle se rol as volg:

– Hulle het aanbeveel dat die minister van binnelandse sake, Malusi Gigaba, burgerskap aan Ajay Gupta se ma, vrou en twee kinders toestaan al het hulle nie daarvoor gekwalifiseer nie omdat die hoof van die familie – Ajay Gupta – nie om burgerskap aansoek gedoen het nie.

Boonop het die vier bogenoemde Guptas wat wel burgerskap gekry het, nie afstand gedoen van hul Indiese burgerskap soos Suid-Afrikaanse wetgewing vereis nie.

Toe die DA-LP Haniff Hoosen hulle daaroor vastrap, het dit lank gevat voordat hulle toegegee het hulle het regulasies oortree.

Boonop blyk dit dat die twee amptenare nie behoorlik navraag gedoen het nie, soos vereis word, om te verifieer hoeveel Oakbay Investments, die Guptas se maatskappy, in Suid-Afrika belê het voordat hulle ingestem het dat die toestaan van burgerskap aan die vier Guptas versnel moet word.

Die voorsitter van die portefeuljekomitee en ANC-LP, Patrick Chauke, was teen die einde van hul insette so keelvol vir die twee amptenare dat hy hulle beveel het om op te hou speletjies speel.

“Julle verkoop die Suid-Afrikaanse burgerskap waarvoor mense geveg en gesterf het. Watter voordeel het julle getrek? Julle het ʼn gemors gemaak,” het Chauke gesê.

Ná Sikhakhane en Ramakgatle was dit die beurt van Major Kobese, die departement van binnelandse sake se direkteur: koördinering en ondersteuning van buitelandse kantore.

Kobese is gister deur die burgerregte-organisasie Outa daarvan beskuldig dat hy twee poste in die Indiese stede Nieu-Delhi en Mumbai verkeerdelik gevul het deur amptenare aan te stel wat geheul het met Ashu Chawla, die operasionele hoof van die Gupta-maatskappy Sahara Beherend.

Kobese het beweer hy is glad nie aan korrupte gedrag skuldig nie, maar dit het onder ondervraging geblyk sy geheue speel soms met hom parte.

Hoosen en die EFF-LP Hlengiwe Mkhaliphi het hom erg laat kleitrap deur hom te laat ontken hy het spesifieke e-posse van uiters persoonlik vriendelike aard aan Chawla gestuur, net om dit dan te bewys, waarop Kobese dan beweer het hy het daarvan vergeet.

Kobese moes ook erken dat Chawla sy (Kobese se) aspirant-musiekloopbaan bevorder het, en hy is met dokumentêre bewyse gekonfronteer dat hy junior amptenare geïntimideer het om Chawla ter wille te wees.

Teen die einde van sy getuienis het Chauke droogweg opgemerk dat die komitee baie langer as verwag neem om agter die waarheid te kom.

“Dit sou vinniger gegaan het as die antwoorde eerliker was,” het Chauke gesê voordat hy Kobese gewaarsku het dat hy waarskynlik weer voor die komitee gaan moet verskyn omdat daar soveel gate in sy verhaal is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johann ·

Julle… rerig… ons mors tyd en belasting geld met al. die ondersoeke na korupsie en kaping! Volgens die hoogs eerbare ZUMA bestaan daar nie so iets nie! En KORRUPSIE is n Westerse begrip! EN hy is SUPER trots op sy bydrae tot die ALL 4 FREE STUDEER LEGACY…. EN volgens ZUMA is Nasioinalisering van ALS wat hy en sy Zumaikies reeds begin “nasionaliseer” het, juis wat moet gevat… bedoel NASIONALISEER word! Wie kan met sulke diep denke stry?

T ·

Nigter alleen weet waarom hulle al hierdie ondersoeke doen nie want hier gaan absoluut niks van kom nie!

T ·

TLC, dit sal nie gebeur nie. Kyk dan watter lekker pensioen kry Zuma nou met ons belastingbetalers se geld en dan word daar nog so goed na sy sting siele ook gesorg.

Jakes ·

Dink mooi hier oor.
Ons het nie rerig enige polisie wat die mense kan vas vat.
Dinge kom nou uit oor hoe mooi zuma tewerk gegaan het en plus daar word nou teen hom getuig “geen draai om vir hulle”

Al wat ek kan se is..Lekker :-)
Wiel draai al sien ons nog nie koppe rol.
En al die nonsens is net nog hout vir hul vuur wat kom later.

Alida ·

Ek glo die die spul sal op die einde tronk toe gaan. Hoop so.

Devill ·

Mnr. Chauke, dit is JOU party die ANC, en sy vrot en korrupte leiers, wat JOU en die twee menere wat so lieg aangestel het in julle poste, wat verantwoordlik is vir die Gupta gemors.
JY is nog steeds deel van hierdie party ondanks al die bewyse van korrupsie, bedrog, leeuns, veraad ens ens.
JOU party lieg permanent, hulle loop altyd jakkelsdraaie en trap altyd klei as hulle moet antwoorde gee. Dis JOU party wat hulle so geleer het. Dit is jou leiers wie se voorbeeld hulle volg. Dit is JOU party wie se vrot hulle oral rond dra en versprei! Dit is JOU mense, jou kollegas en jou “comrades”, almal van die selfde vrot, korrupte, oneerlike ANC!
Dat enige iemand nog vir die ANC kan stem of ondersteun of nog wil deel wees van hulle maak my DOM!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.