Senior amptenare vas ná diamante vir opleiding verdwyn

(Argieffoto)

Vier senior staatsamptenare is vasgetrek nadat diamante van meer as R6,7 miljoen – wat veronderstel was om vir die opleiding van studente gebruik te word – byna tien jaar gelede tussen neus en ore verdwyn het.

Die Valke het die amptenare, verbonde aan die Noord-Kaapse departement van ekonomiese ontwikkeling en toerisme (Dedat), Woensdagoggend vroeg aangekeer nadat lasbriewe vir hulle inhegtenisneming bekom is.

Lt.kol. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, sê die Europese Unie (EU) het in die 2010-’11-boekjaar R6,7 miljoen geskenk wat vir die opleiding van studente in die slyping en polering van ongeslypte diamante gebruik sou word.

Die diamante is in Maart 2011 by ʼn private entiteit aangekoop, maar sonder dat ʼn lisensie bekom is om ongeslypte diamante te koop. Die diamante is gevolglik op die verkoper se perseel gehou.

Veertig studente het in dieselfde jaar ingeskryf vir ʼn kwalifikasie in die slyping en polering van diamante wat deur die Kimberley Diamonds International Jewellery Academy (KIDJA) aangebied is. In Julie 2012 is daar tydens ʼn onverwagse inspeksie van die ouditeur-generaal egter gevind dat die diamante spoorloos is.

Die Valke se ondersoek het jare later tot die vier se inhegtenisneming gelei. Hulle staan tereg op aanklagte van bedrog, asook die oortreding van die Wet op Diamante én die Wet op Openbare Finansiële Bestuur.

Nkwalase sê hulle sal so gou moontlik in die hof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Tipper ·

Die boere vang vir hulle lekker uit,die wat hulle so jaag vir transformasie.

Elize ·

Klassiek. Skud jou kop en lag in die land van skelms en idiote.

Swerwer ·

Nou wat het hul verwag. Die voorbeeld word mos deur die Regering en ANC gestel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.