Senior DA-LP bedank

Mike Waters. (Foto: DA)

Een van die DA se langsdienende parlementslede, Mike Waters, het Vrydag uit die parlement bedank.

Hy was sedert 1999 ʼn parlementslid, en het van 2014 tot 2019 as die party se adjunkhoofsweep in die Nasionale Vergadering gedien.

Waters het die afgelope tyd aan vertrouelinge laat blyk hy gaan bedank en het geen amptelike rede vir sy bedanking verskaf toe hy dit Vrydag op sosiale media aangekondig het nie.

Ná die 2019-verkiesing is hy nie weer deur die DA-koukus tot adjunkhoofsweep herkies nie. Hy is in die stemming onder sy kollegas geklop deur Jacques Julius, DA-LP van Randfontein – na verstaan word met ʼn meerderheid van een stem.

Daarna het Waters geweier om in die party se skadukabinet te dien. Hy het verbind geraak met die behoudende vleuel van die DA in Gauteng, en was ʼn sleutelspeler in die verloorveldtog van die DA-LP Ghaleb Cachalia om die destydse Gautengse leier van die DA, John Moodey, te ontsetel.

Tydens die verkiesing van ʼn nuwe voorsitter vir die DA se federale dagbestuur in 2019, ná die bedanking van James Selfe, het Waters hom verkiesbaar gestel, maar baie min stemme gekry en laaste geëindig.

Waters, wat in die 1990’s ʼn wyk in Kempton Park in die stadsraad verteenwoordig het, het wel in sy bedankingsaankondiging die DP, die DA en die kiesers van Kempton Park en Edenvale vir hul steun oor die jare bedank.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

wim ·

Plaas dat die diensplig ontduiker& voormalige kader van Fourways bedank.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.