Senior dokters glo gederegistreer

stetoskoopDie Gautengse departement van gesondheid het Vrydag ontken dat twee senior dokters by die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg, deur die Raad vir Gesondheidsberoepe van Suid-Afrika (HPCSA) gederegistreer is.

Die DA beweer dat Mamorena Mofokeng, ʼn kliniese direkteur, en Sibusiso Ngobese, ʼn kliniese uitvoerende hoof, versuim het om te voldoen aan voortgesette professionele ontwikkelingsregulasies. Volgens Jack Bloom, die DA se woordvoerder van gesondheid in Gauteng, vereis dié regulasies onder meer dat dokters elke jaar 30 ure bykomende opleiding voltooi. “Mofokeng is in Maart en Ngobese is in April deur die HPCSA geskors,” het Bloom gesê. “Dié dokters word wettiglik verbied om pasiënte te behandel, wat hul werksaamhede by die hospitaal ernstig beïnvloed. Dit is skokkend dat senior dokters toelaat dat hul registrasie verval.”

Simon Zwane, ʼn woordvoerder van die departement, het egter gesê die dokters het wel hul registrasie hernu, maar die HPCSA het nie die departement daaroor ingelig nie. “Wat ons betref is die dokters se registrasie op datum en dit sal so bly totdat amptelike kommunikasie van die HPCSA die teendeel bewys,” het Zwane gesê. – SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.