Senior joernaliste skryf sterk bewoorde brief aan Hlaudi

Hlaudi Motsoeneng Foto: news.iafrica.com

Hlaudi Motsoeneng Foto: news.iafrica.com

Drie senior SAUK-joernaliste het ʼn sterk bewoorde brief aan Hlaudi Motsoeneng, bedryfshoof van die SAUK, geskryf waarin hulle duidelikheid versoek rakende “redaksionele beleid” en hul kommer uitspreek oor die “onregverdige skorsings”.

Busi Ntuli, uitvoerende vervaardiger van Special Assignment, Krivani Pillay, uitvoerende vervaardiger van SAfm se aktuele programme, en Jacques Steenkamp, senior ondersoekende joernalis, voer in die brief aan dat die spot met die openbare uitsaaier se nuuskantore gedryf word, dat joernaliste wanhopig is en dat hulle onder kritiek deurloop.

Volgens die drie het die afgelope week se gebeure die “gevoel van vrees en gebrek aan duidelikheid” versterk. Hulle voer ook aan dat die besluite om nie koerantbesprekings te hou nie en die kansellasie van SAfm se Editors-program op sensuur neerkom.

“As gesoute joernaliste in die SAUK hou ons vol dat die redes wat vir die skielike besluite aangevoer word strydig is met ons beleid en wetgewing, naamlik die gewysigde redaksionele beleid van die SAUK, die Suid-Afrikaanse Uitsaaiwet en die Grondwet.”

Ntuli, Pillay en Steenkamp spreek hulle ook sterk uit oor die SAUK se beeld en sy werknemers se “joernalistieke integriteit” wat in twyfel getrek word weens “ongrondwetlike uitsprake”.

Foeta Krige, uitvoerende regisseur van Monitor en Spektrum en Suna Venter, ʼn senior verslaggewer, is Donderdag saam met Thandeka Gqubule, ʼn sakeredakteur, geskors, omdat hulle, volgens die openbare uitsaaier, klank- en beeldmateriaal van gewelddadige betogings uitgesaai en dus ʼn direkte bevel verontagsaam het.

Volgens Ntuli, Pillay en Steenkamp is hulle uiters bekommerd oor die skorsing van hul kollegas omdat hulle “hul reg tot vryheid van uitdrukking” uitgeoefen het. Hulle het gesê die skorsings kom op viktimisasie neer. “Ons is geskok deur die jongste uitlatings wat die reg van die publiek om die hele storie te weet rakende verwikkelinge in hul gemeenskappe, fundamenteel erodeer.”

Ntuli, Steenkamp en Pillay het intussen ʼn vergadering met Motsoeneng versoek om duidelikheid te kry oor die besware in hul brief. “Ons hoofbelang is om duidelikheid te kry oor die verwarring en ʼn blywende oplossing te vind wat ook riglyne sal verskaf oor alle redaksionele kwessies. Laastens hoop ons ook dat dit ons openbare beeld sal herstel en ons integriteit sal handhaaf in die oë van diegene wat ons veronderstel is om te dien.”

Die brief is ook gerig aan Jimi Matthews, waarnemende uitvoerende hoof wat Maandag sy bedanking aangekondig het, Simon Tebele, waarnemende uitvoerende hoof van nuus, Nyana Molete, waarnemende groephoof vir televisie, Angie Kapelianis, nasionale redakteur van aktuele nuus vir radio, Nothando Maseko, waarnemende hoof van aktuele nuus vir radio, en Zolisa Sigabi nasionale bulletinredakteur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Marc ·

Dit mag miskien lyk of ou Rooioog onder druk kom, maar hy voel hy is onaantasbaar. Wat het geword van Vrydag se vergadering?

marianne ·

Die SAUK is ‘n marionette van die ANC – verslaggewers moet uiters versigtig wees oor die berue wat hulle skryf! Alles word gesensor sodat die land se beeld nie geskend word nie! DIT IS BELAGLIK!
90% Senior verslaggewers wat hul sout werd is gaan bedank omdat die waarheid verdoesel word. Wat het van FREEDOM OM SPEECH geword?
Nou neem die SAUK onskadelike programme weg maar los alles en herhaal dit nogal wat haat , moord, satanisme en geweld aanhits en bevorder
Ek wens die verslaggewers wat wel totsiens se alles van die beste toe.

Idyssea ·

Ten minste is daar nog joernaliste wat nie alles net gedweë aanvaar uit vrees dat hul hul poste gaan verloor nie. Hoe moeilik dit ook al is!

Marnus Coetzee ·

Ja-nee, ou rooi-oog is onaantasbaar. Hy steur hom nie aan die werklikheid nie, want hý skep self die amptelike weergawe van die werklikheid. Dit ruik baie na George Orwell se totalitêre staat: . “1984”

Belinda ·

Suid-Afrika of is dit nou Zimbabwe… steek weg die waarheid.

alida ·

Mens kan nie meer byhou met al die gebeure in die land nie. Intussen lees ek steeds die boekies van oom Kaspaas hulle uit my kinderdae. Geniet dit vreeslik !!!

Peet ·

Ek dink dit het tyd geword dat die wat nog hul TV lisensies betaal, dit nou stop.

hans brits ·

Dis hoe dit gaan as kommuniste in beheer is.Stalin,hitler en al die wereld se hoogeagte kriminele het dieselfde gedoen.O ja, en vergeet nie die idi amin nie.Ja waarlik die duiwel is los.

Esmay ·

Ja, Hans iets is beslis aan die gebeur in die land. Dit raak nou n kommunistiese land!!! Kon die leiers voor ’94 dit dan nie sien kom nie. …!!!!!

Henry ·

Wat hierdie drie joernaliste gedoen het, is die weg wat gevolg word deur werknemers en bestuurslui wat ongeregtighede in ‘n organisasie wil regstel.
Wat ernstig daaroor is om die beste moontlike uitweg vir hul organisasie wil verseker.
Wat in die proses nie huiwer om beherende beamptes aan te vat nie.
Wat nie bedank en weg hol nie.
Hierdie drie is die mense wat werklik van waarde vir enige organisasie is.
Hul saak sou soveel sterker gewees het indien hul waarnemende hoof – Matthews – bereid was om saam met hulle hierdie weg te volg. Matthews het ongelukkig bedank, sonder om die dapperheid en integriteit van hierdie drie manne te openbaar.

Koos ·

Ek dink die vorige leiers het geweet wat kom, seker gedink as die dingrs die fan tref is hulle nie meer met ons nie. Die wat nog leef is gezip en gestrip

Rynhardt ·

SABC het onder ou NP bedeling en onder huidige Anc bedeling geen geloofwaardigheid! Afrikaner/Boervolk hoekom dink julle, sit jul vandag sonder land en toekoms? Nog steeds is SABC met Hlaudi Motsoneng gehoorsaam aan Anc en word sensuur deur hom en talle radiostasies oor die jare toegepas!Motsoeneng, alle lekkerte kom vinnig tot n einde.SABC het lankal sy glans verloor met ongure karakters wat na regerings se pype vir jare dans!

Gert ·

Sal jy iemand in jou huis toelaat wat jou kom laai met vrees? Jou kinders blootstel aan geweld en sex? Jou kom besig hou met dinge wat nie enige waarde toevoeg aan jou en jou kinders se toekoms nie? Jou besig hou sodat jy nie tyd het vir jou geliefdes in die familie nie? Jou leeuns verkoop en die waarheid met opinie vervang? Ek dink nie so nie. Nou waarom nog die TV in vandag se tyd toelaat in jou huis? Verkoop die glas oog in jou huis (TV) en kanseleer jou lisensie. Die wit man dra nog die SAUK met hul lisensiegelde maar word kort geskiet aan menigde goeie gesonde programme soos in die verlede. Hulle sal binne een maand vou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.