Senior regeringsbeampte in oprit doodgeskiet

Argieffoto (Foto: imgkid.com)

Argieffoto (Foto: imgkid.com)

ʼn Saak van moord word ondersoek nadat ʼn 52-jarige senior regeringsbeampte Woensdag by sy huis in Oos-Londen in die Oos-Kaap doodgeskiet is.

Kapt. Mluleki Mbi, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn huurder wat in die agterplaas van die man se huis in Cambridge woon, het ʼn buurman geroep toe hy sien hoe die man met sy bebloede bolyf teen sy motor in die oprit van die huis leun. “Hy is na ʼn hospitaal gehaas waar hy aan sy wonde beswyk het,” het Mbi gesê.

Sizwe Kupelo, Oos-Kaapse regeringswoordvoerder, het bevestig dat die man ʼn senior beampte was wat in die kantoor van die LUR vir maatskaplike ontwikkeling, Nancy Sihlwayi, gewerk het. Kupelo het gesê die man se naam word vir eers teruggehou totdat al sy naasbestaandes omtrent sy dood ingelig is.

Hy het gesê die motief vir die skietery is nie bekend nie en het ʼn beroep op die polisie gedoen om alles in hul vermoë te doen om die moordenaar aan te keer. “Ons wil nie nou bespiegel oor die motief vir die moord nie. Hy is koelbloedig doodgeskiet en dit is vir ons ʼn groot skok. Ons veroordeel die moord ten sterkste. Ons betuig ons innige medelye aan sy familie,” het Kupelo gesê.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

humor ·

Binnekort sal n nuwe straler nie so belangrik wees nie. Daar sal gekerm word oor koelvaste baadjies en ekstra gepanserde vuurwaens.

Margi ·

Vergeet van die Italiaanse Mafia – Suid Afrika het oorgeneem!!!

Karma ·

Vir hulle is dié persoon – ‘n regeringsbeampte – se skietdood ‘n groot skok …. maar die aantal plaasmoorde op blankes is maar net nóg ‘n misdaad en dit is geen skok as ons voedselvoor-sieners by die honderde dag na dag, maand na maand, jaar na jaar uitgemoor word nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.