Senior SAID-personeel moet hersien word, sê Nugent

Die Nugent-kommissie stel ondersoek in oor belastingadministrasie en bestuurskwessies by die SAID (Foto: Brenda Masilela/ANA)

Afgetrede regter Robert Nugent het Woensdag sy aanbeveling benadruk dat ʼn nuwe kommissaris by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) die bekwaamheid van die organisasie se senior personeel moet hersien.

Volgens hom het hulle versuim om die onbehoorlike gedrag van afgedankte hoof van die SAID Tom Moyane te daag.

“Daar was ʼn periode waar daar nie enige optrede was teen dit wat by die SAID gebeur nie,” het Nugent gesê. Hy is die voorsitter van die kommissie wat ondersoek instel oor belastingadministrasie en bestuurskwessies by die SAID en Moyane se afdanking aanbeveel het.

Nugent het gesê die kommissie het in Desember verlede jaar reeds aanbeveel dat senior personeellede hersien moet word en daar bepaal moet word of hulle die publiek se vertroue in die SAID kan herstel.

Hy het gesê die huidige waarnemende kommissaris Mark Kingon ondervind probleme omdat hy nie in ʼn posisie is om groot veranderinge te maak, soos om die inkomstediens se tegnologie op te dateer nie – eerstens omdat hy slegs op ʼn kontrakbasis van 90 dae aangestel is en tweedens omdat daar nie vertroue is in hom nie.

Hy het ook uitgewei oor sy redes waarom hy aanbeveel het dat die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging ondersoek moet instel of Moyane van bedrog aangekla moet word ná hy valse inligting ingedien het wat daartoe gelei het dat die Boston-gebaseerde konsultasiemaatskappy Bain & Co aangestel is om ʼn nuwe sakeplan vir die inkomstediens saam te stel.

Nugent het op Moyane se versuim gewys om die voormalige minister van finansies Malusi Gigaba in te lig dat hy al ʼn jaar lank met Bain in gesprek was voor hy versoek het dat eksterne adviseurs aangestel moet word. “Die briewe aan die minister was misleidend.”

Moyane se aansoek om verlof tot appèl teen sy afdanking is in die konstitusionele hof van die hand gewys. Pres. Cyril Ramaphosa het Moyane afgedank op aanbeveling van die Nugent-kommissie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

PJC ·

Tom Moyane se arrogansie ken geen perke en dit sal goed wees as hy ń bietjie in die bek geruk word.

Parlement ·

Tweedens omdat daar nie vertroue in Mark is nie!! Halloooo!!! Mark het hom seker al bewys in die 3 maande – sy personeel het vertroue en groot respek in hom

wraggies ·

Ongelukkig is Mnr Kingon die verkeerde kleur, dit is waarna die gebrek in vertroue verwys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.