Senior Samwu-lid by brand van vullistrok betrek

Cilliers Brink

Die Stad Tshwane sê hy het al weke gelede bewyse ontvang dat ’n senior lid van die munisipalewerkersvakbond Samwu betrokke was by ’n voorval waartydens ’n kontrakteur se vullisverwyderingvragmotor aan die brand gesteek is.

Cilliers Brink, burgemeester van Tshwane, sê daar kan in ’n video van die aanval gesien word hoe ’n groep mense in ’n straat in Tshwane afgelaai word voordat hulle op die vragmotor toeslaan en dit aan die brand steek.

Die boosdoeners word dan weer opgelaai in dieselfde voertuig as waarmee hulle in die straat afgelaai is.

Dié voertuig behoort aan ’n senior amptenaar van Samwu.

Johann Mettler, stadsbestuurder, het Brink Donderdag daarvan in kennis gestel dat ondersoekers die senior amptenaar se weergawe van gebeure aangevra het. Die amptenaar se alibi kon egter nie bevestig word nie en Mettler het ’n afdankingsbrief aan die amptenaar gestuur.

Die video is kort nadat dit bekom is, aan die polisie oorhandig. Die polisie se ondersoek duur egter nog voort en geen inhegtenisnemings is gemaak nie.

“Intussen is verskeie aanvalle op personeel, voertuie en infrastruktuur van die Stad Tshwane geloods ter bevordering van Samwu se onbeskermde staking,” sê Brink.

“Die vakbond het natuurlik enige betrokkenheid by dade van misdadigheid ontken. Hulle het ook met tye ontken dat daar ’n staking is of dat hul leiers enige aandeel daaraan gehad het. Maar die inligting in die metro se besit trek ’n verband tussen Samwu se topleierskap en die pleeg van misdaad.”

Brink sê hy glo dit is in die openbare belang om die inligting rakende die amptenaar se betrokkenheid bekend te maak.

“Dit is van kritieke belang dat die mense van Tshwane weet wat aangaan en tot watter mate geweldsmisdaad as onderhandelingstaktiek in hierdie staking gebruik is.

“Ons doen ’n beroep op die leierskap van Samwu om na te dink oor hierdie voorval, om daarmee op te hou om met ’n gesplete tong te praat en om elke moontlike stap te doen wat nodig is om te verseker dat hul lede hul kollegas van Stad Tshwane en kontrakteurs toelaat om hul werk te doen sonder om vir hul lewens te vrees.

“Ons doen ook weereens ’n beroep op nasionale wetstoepassing om nie die kriminele aanranding op die Stad Tshwane en ons werknemers as ’n arbeidsgeskil of as ’n interne veiligheidskwessie te hanteer nie, maar as misdade teen die staat.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Amelia ·

Ek vermoed die is teen die da gemik wil seker volg jaar eff in 2de plek he dink net wat sal dan gebeur eff en anc is mos maar die selfde

Elizabeth ·

Natuurlik is dit politiek. As hulle so lank protes aanteken is geld mos nie ter sprake? No work no pay.

E ·

Ek hoop werklik kriminele klagte volg en dat hulle sy pensioen sal vat om die trok te vervang. Belasting betalers moet altyd die verliese opmaak.

Hendrik ·

n Smerige politieke laagte punt in laakbaarheid. Kan alleen van die anc eff verwag word. Vir hul is dit n pylike nederlaag dat hul van hul verrote beheer ontneem is. Die vrese is dat die Wes Kaap kan oorspoel.

Kobus ·

Naam en foto asb. In VSA word jou gesig onmiddellik gewys al is dit net “na bewering” Hoekom word persone in posissies altyd ander behandel? Misdaad is misdaad

skurweberg ·

Alle onwettigde en geweldadige stakings moet as ‘n krimenele daad teen die mensdom verklaar word. Mooi praat vererger net die situasie

Papsak ·

Nee verkiesing kom kyk wat doen hulle maar daar word gestem vir hulle hoe nou laat hulle betaal vir skades pluk hulle

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.