Sensorskapwet tree stil-stil in werking

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

“’n Donker dag vir vryheid van spraak,” sê die DA oor die Wysigingswet op Films en Publikasies – beter bekend as die Internetsensorskapwet – wat vandeesweek stil-stil in werking getree het.

Dié omstrede wet bepaal dat aanlyn inhoudskeppers voortaan by die film- en publikasieraad (FPB) geregistreer moet wees en dat die skeppers se inhoud eers geplaas sal kan word nadat die raad dit goedgekeur het.

Die wet verleen met ander woorde sensuurmagte aan ’n regeringsliggaam. Die regering hou egter vol die wet het niks te make met sensuur nie, maar bloot die beskerming van landsburgers teen onder meer haatspraak, aanhitsing tot geweld en oorlogspropaganda.

Die Internetsensorskapwet is reeds in 2019 goedgekeur, maar het nou amptelik Dinsdag in werking getree. Dít nadat pres. Cyril Ramaphosa en die minister van kommunikasie en digitale tegnologie, Khumbudzo Ntshavheni, die proklamasie op 11 Februarie onderteken en dit op 25 Februarie in die Staatskoerant afgekondig het.

Dít het egter alles sonder Suid-Afrikaners se medewete gebeur aangesien die Staatskoerant sedert die begin van Februarie nie aanlyn gelees kan word nie weens tegniese probleme by die staatsdrukker.

“Die ANC-regering het gehoop hierdie aaklige stuk wetgewing sou ongesiens verbygaan,” sê Solly Malatsi, die DA se skaduminister van kommunikasie.

Die opposisieparty is sterk gekant teen dié wetgewing en bestempel die inwerkingtreding daarvan as ’n “donker dag vir vryheid van spraak”.

Minister Khumbudzo Ntshavheni. (Foto: Flickr/GovernmentZA)

Verskeie organisasies, waaronder AfriForum, Dear South Africa en die Freedom Advocacy Network, het op hul beurt briewe aan die FPB gerig in ’n poging om die regering se planne te stuit.

AfriForum sê die regering se pogings om ’n nuwe sensuurwet deur te voer is onaanvaarbaar. Die organisasie het in sy brief aan die raad spesifiek teen die konsepklassifikasieriglyne vir die klassifisering van films, speletjies en sekere publikasies beswaar aangeteken.

Luidens die voorgestelde konsepriglyne sal enige digitale inhoud vir platforms soos Facebook, YouTube en Twitter eers aan die FPB vir klassifisering voorgelê moet word voordat dit gepubliseer kan word.

AfriForum hou egter vol die riglyne verleen te veel magte aan die FPB wat strydig is met die Wet op Films en Publikasies (Wet 65 van 1996).

Die organisasie wys daarop dat die konsepriglyne nie meer magte aan die FPB kan verleen as wat die wet self doen nie en dus “onlogies, onwettig en onreëlmatig” is.

“Jy kan nie jou bevoegdheid toe‑eien deur die definisie van aanlyn inhoud uit te brei nie,” sê Daniël Eloff, AfriForum se regsverteenwoordiger vanmiddag aan Maroela Media.

Eloff sê dit is in dié stadium onduidelik oor watter inhoud die wysigings jurisdiksie het. Hy het self eers vandeesweek van die inwerkingtreding van die wet te hore gekom, maar meen die bewoording van die konsepriglyne is “kommerwekkend”.

“Ons almal wonder hoe hulle dit gaan toepas.”

Eloff is daarvan oortuig dat die uitvoering van die wet “eenvoudig onprakties is” aangesien die FPB oorlaai gaan word met bykomende regulering en toesighouersverantwoordelikhede. Bykomende befondsing sal boonop benodig word wat “totaal irrasioneel is in die huidige sosiaal‑ekonomiese klimaat”.

Jacques Broodryk, AfriForum se veldtogtebestuurder, sê op sy beurt dit sal onmoontlik wees om die wet te implementeer.

“Dit is duidelik dat hierdie wet deur die regering as ’n wapen gebruik kan word om opposisiepartye, nieregeringsorganisasies en hul kritici se sosialemedia-inhoud te teiken aangesien dit staatsamptenare se verantwoordelikheid gaan wees om hierdie inhoud goed te keur.”

AfriForum het versoek dat die tydperk vir kommentaar rakende die wet verleng word tot einde Maart.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

19 Kommentare

jongste oudste gewildste
Swerwer

Dit is net nog ‘n stap van die kommunis om mense te beheer.

AW

Ja Nee !!

Suzette

As dit niks te make het met sensuur nie – hoekom het dit dan so stil-stil gebeur? Hierdie regering is uiters magsbehep, korrup.

Johan SA

Dit is een ding om sensuur wette in te bring, maar ‘n heel ander ding om blatant daaroor te lieg! Nog ‘n struikel blok in Suid-Afrikaners se poging om te oorleef. Ons regering haat sy hierdie land se burgers. Nie dat ek dink hulle sal dit werklik kan uitvoer nie, maar, as jy binne die wet wil bly…

Misky

Beheer-vrate!!!