Sensus-tydperk in Wes-Kaap verleng

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Stats SA/Facebook)

Die sperdatum vir inwoners van die Wes-Kaap om deel te neem aan die 2022-sensusopname is met twee weke verleng. Dié provinsie loop op die oomblik agter ten opsigte van die persentasie huishoudings wat reeds landwyd getel is.

Statistieke Suid-Afrika (StatsSA), wat vir die sensusopname verantwoordelik is, het gesê opnames sal tot 14 Mei in die Wes-Kaap duur.

“Dataversamelaars van StatsSA sal gemeenskappe regoor die provinsie, wat lae reaksiekoerse het, besoek,” het Trevor Oosterwyk, woordvoerder van StatsSA, gesê.

Sedert die sensusopname in Februarie afgeskop het, het slegs 1,1 miljoen huishoudings in die Wes-Kaap die sensusvraelys voltooi.

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, het vroeër sy kommer uitgespreek oor inwoners se “swak deelname” aan die opname.

Winde voer aan dat as inwoners versuim om nie by die opname ingereken te word nie, sal dit voorkom of die provinsie ʼn laer bevolkingsyfer het as wat werklik die geval is, ongeag ʼn beduidende groei in bevolking.

“Dit het ʼn impak op begrotingstoewysing en ander toewysings en hulpbronne wat nasionaal beskikbaar gestel word.”

StatsSA het ook benadruk dat die inligting wat tydens die sensus ingesamel word, broodnodig is om te bepaal of sekere provinsies en munisipaliteite opgraderings in hul infrastruktuur sal kry.

“Sensusdata sal gedetailleerde inligting verskaf oor waar skole, klinieke en huise gebou moet word en waar elektrisiteit-, water- en rioolinfrastruktuur benodig word,” sê Oosterwyk.

“ʼn Sensus het ʼn impak op die lewe van elke inwoner en almal word aangemoedig om getel te word.”

Indien Suid-Afrikaners gedruk is vir tyd, kan die sensusvraelys ook aanlyn, sonder data, beantwoord word. Huishoudings het tyd tot 14 Mei om die aanlyn vraelys in te vul.

“Met meer as 600 000 huishoudings wat nog in die Wes-Kaap besoek moet word, word almal wat nie getel is nie aangemoedig om van hierdie geleentheid gebruik te maak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.