Sentrum rig pleidooi ná besoeker diertjie glo steel

Periwinkle (Foto: Verskaf)

Die Monkey Town-primaatsentrum in Somerset-Wes in die Wes-Kaap het vandeesweek ʼn pleidooi aan ʼn besoeker van dié sentrum gerig wat glo Sondag ʼn lesser tenrec (ʼn soort krimpvarkie) tydens ʼn besoek aan die sentrum gesteel het.

Yvette Botha, bestuurder by die sentrum, vertel Dinsdag aan Maroela Media die sentrum het dié pleidooi op sosiale media gerig omdat die tenrec spesiale sorg benodig en moontlik kan doodgaan as daar nié reg na die diertjie omgesien word nie.

Die primaatsentrum hou meer as 250 ape van 26 verskillende spesies aan. Daar is onder meer ook krimpvarkies wat die lesser tenrec – ʼn soort krimpvarkie met sagter pennetjies oor sy lyf wat oor die algemeen ook minder aggressief as ʼn krimpvarkie is – insluit.

Botha sê die personeel van Monkey Town is “geskok en hartgebroke” dat die tenrec, wat Periwinkle heet, uit die sentrum gesteel is.

Periwinkle (Foto: Verskaf)

Volgens haar was daar Sondag ʼn groep besoekers naby die hokke waar die diertjies aangehou word wat vermoedelik vir Periwinkle gesteel het. Sy sê die personeel se aandag was vir ʼn oomblik nié by die besoekers nie, en Periwinkle was vermis toe sy minder as ʼn minuut later na die hok gegaan het. Botha sê ʼn vroulike besoeker wat deel was

van ʼn groep het oomblikke vroeër gevra of sy Periwinkle mag

optel, maar die personeel het aan haar gesê dit is teen die reëls.

“Die een oomblik was sy nog daar en die volgende oomblik was sy net weg,” sê sy. “Dit is skokkend dat iemand net ʼn ander mens se diere kan steel. Ons het nadat ons agtergekom het Periwinkle is weg, onmiddellik na die groep gaan soek wat oomblikke vroeër by die hokke was, maar ons kon hulle nie opspoor nie. Die polisie is intussen ook by die saak betrek.”

Periwinkle se verdwyning het intussen momentum op sosiale media gekry en dit is in verskeie nuusberigte genoem. Botha sê ʼn anonieme inbeller het Dinsdag ná ʼn nuusberig op Omny FM in die Kaap glo die besonderhede van ʼn persoon gegee wat Sondag onder verdagte omstandighede met ʼn krimpvarkie tuis opgedaag het. Volgens haar het die persoon dié voorval ontken, en die polisie kon ook nog geen vordering in die saak maak nie.

Periwinkle (Foto: Verskaf)

“Periwinkle en Victor, die manlike lesser tenrec, het ʼn baie spesiale band en verhouding en hy soek heeldag na haar. Dit is vir ons hartverskeurend en ons wil haar net veilig terug hê, en die ergste is dit is onwettig om ʼn tenrec in die Wes-Kaap aan te hou. Ons is boonop ook bang dat die persoon nie weet hoe om die diertjies te versorg nie – iets wat tot haar dood kan lei.”

Botha sê die primaatsentrum sal “geen vrae vra” indien die persoon vir Periwinkle veilig terugbesorg nie. “Ons maak ʼn punt daarvan om dit duidelik te stel dat die persoon net vir Periwinkle kan terugbring. Ons sal geen klagte lê nie en geen vrae vra nie. Ek het juis vir die personeel gesê hulle moenie vrae vra as iemand net by die sentrum ronddwaal sonder om ʼn kaartjie koop nie – hulle moet net later gaan kyk of die persoon nie dalk ʼn boks êrens gelos het nie. Ons wil haar net terug hê.”

Enigiemand met meer inligting word versoek om Monkey Town telefonies te kontak by 021 858 1060 of ʼn e-pos te stuur aan [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.