Niemand is al in hegtenis geneem in verband met ʼn gewapende roof wat Donderdagaand by die Montana Crossing-sentrum in die noorde van Pretoria plaasgevind het nie.
Mirna von Beneke, woordvoerder van die Sinoville-polisie, het Maandag aan Maroela Media gesê die ondersoek duur voort en die publiek word versoek om met inligting na vore te kom wat die polisie in sy ondersoek kan bystaan.
Maroela Media het vroeër berig ses gewapende mans het Donderdagaand op die Pick n Pay by die sentrum toegeslaan en dit beroof.
“Die mans het die supermark betree toe kassiere besig was om vir die dag af te sluit. Hulle het die kassiere gedwing om kontant in sakke te druk, asook van die geldlaaie van die kitsbank in die winkel gebuit,” het Von Beneke vroeër gesê.
Hulle het die werknemers, wat agter die toonbank werk, gedwing om op die vloer te lê en sigarette gebuit, het die polisie gesê. Hulle het twee skote buite die winkel gevuur voor hulle in ʼn BMW en Audi gevlug het.
Die polisie het die verdagtes agternagesit en beamptes het die BMW van die pad afgedwing. Die verdagtes het te voet gevlug.
Die polisie het beslag gelê op kontant, kasregisterlaaie, selfone, ʼn hamer en klere wat in die motor agtergelaat is.
Die polisie het lede van die publiek gewaarsku dat die verdagtes gewapen en gevaarlik is en nie gekonfronteer moet word nie. Mense wat weet waar die verdagtes hulle moontlik kan bevind, word versoek om die Sinoville-polisie by 012 543 8800 of Crime Stop by 0860 010 111 te bel.