Senzo Meyiwa: AfriForum eis geregtelike doodsondersoek

Adv. Gerrie Nel gedurende die mediakonferensie. (Foto: Reint Dykema)

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, het namens die familie van die sokkerspeler Senzo Meyiwa geëis dat die Nasionale Vervolgingsgesag ’n formele geregtelike doodsondersoek aanbeveel.

AfriForum het Woensdagoggend by ’n mediakonferensie in Pretoria sy plan van aksie bekend gemaak. Dié burgerregteorganisasie het in November aangekondig dat Nel as die familie se advokaat in die ondersoek na Senzo se dood aangestel is.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, meen ’n formele geregtelike doodsondersoek is die beste roete om te volg.

“Dit is nodig dat die agt mense wat die betrokke aand van die moord in die huis was, in ’n hof onder eed gekruisondervra word. Ons glo dit is die beste manier om by ’n antwoord uit te kom.”

Maroela Media het vroeër berig die 27-jarige Meyiwa is sowat vyf jaar gelede in ʼn rooftog by ʼn huis in Vosloorus in Boksburg doodgeskiet. Niemand is nog in verband met die moord aangekeer nie.

Meyiwa was ten tyde van die moord saam met sy vriendin, Kelly Khumalo, haar ma, haar sussie, dié se vriend en twee van die paartjie se ander vriende by die huis.

Dié ooggetuies het destyds gesê drie gewapende mans het die huis, vermoedelik in ʼn poging om die huis te roof, binnegestorm. Meyiwa is in die proses geskiet.

Volgens Nel het die Nasionale Vervolgingsgesag onlangs aan die Meyiwa-familie aangedui dat ’n vervolging vir die moord nie kan plaasvind op grond van die dossier soos dit nou daar uitsien nie.

Kallie Kriel en Sifiso Meyiwa gedurende vanoggend se mediakonferensie. (Foto: Reint Dykema)

“Die proses van elke onnatuurlike dood in Suid-Afrika volg dieselfde prosedure. Daar moet óf ’n vervolging wees óf ’n geregtelike doodsondersoek. Weens AfriForum se eis is die Nasionale Vervolgingsgesag nou verplig om die saak aan ’n landdros te versend sodat ’n geregtelike doodsondersoek kan geskied.

“Só ’n ondersoek kan op twee maniere aangepak word: formeel of informeel,” verduidelik Nel.

Hy sê verder dat ’n landdros tydens ’n informele doodsondersoek bloot na die verklarings sal kyk en ’n bevinding maak. Tydens ’n formele doodsondersoek word die getuies egter geroep om te getuig.

Wanneer die landdros dan bevind dat die oorledene wel aan die hand van iemand anders dood is, moet die ondersoek teruggaan na die NVG vir vervolging.

“Die proses van ’n geregtelike doodsondersoek kan nie ’n saak benadeel nie, maar wel ’n gevoel van geregtigheid aan die familie gee en hulle nader aan die waarheid bring,” meen Nel.

Nel het by die mediakonferensie onthul dat senior polisiebeamptes destyds met die Meyiwa-familie gekonsulteer het, waartydens hulle relevante inligting gegee het. Dié inligting is egter nooit in ’n verklaring omskep wat by die dossier ingedien is nie.

Senzo Meyiwa Foto: soccerladuma.co.za

“Indien dit die geval is, is ’n geregtelike doodsondersoek die perfekte proses.”

Sifiso Meyiwa, Senzo se broer, het ook die mediakonferensie bygewoon. Hy sê die familie is tevrede met die plan van aksie. “Ons glo geregtigheid gaan geskied. Ons wil berusting kry. Ons wil weet wat gebeur het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

magda ·

Ek stem – almal verdien n antwoord op n moord, en as daar enige kans is vir dit – glo ek sal Gerrie Nel dit kan gee. Sterkte aan die Familie. Hoop die skuldige/s word gou vas getrek.

Abe ·

magda,
Ek stem saam, magda, laat geregtigheid geskied. Mooi Afriforum.

Michael P ·

Mense politieke punte speel darem n groot rol in die land van ons.

Abe ·

Tanneman,
Ja, as dit op solidariteit se onkoste moet gebeur, dan moet dit. Daar is dinge wat belangriker is as geld.

Pieter ·

Solidariteit se geld se jy soos ons belasting geld die ANC se geld is

Sirkus ·

@Tanneman, hoop nie jy het ooit Solidariteit se hulp nodig nie. Ons almal help mekaar om staande te bly in hierdie land

JohanR ·

Wat is hier die agenda? Die man is dood. Hoekom nie ‘n ondersoek in die eerste plek reg doen nie? Wie is betaal, en afbetaal, en hoekom?

aj ·

Wie, watter misdadiger, moordenaar, word deur die polisie BESKERM?

Die betrokke polisielede is sélf skuldig aan dwarsboming van die gereg (of ten minste pligsversuim) en behoort aanspreekilik gehou te word.

Elke persoon is deur die SA wet VERPLIG om ‘n misdaad te rapporteer … hoeveel te meer moet polisielede hulle beywer om reg en geregtigheid te laat geskied?

Vervolg die POLISIE!!!

Gerrie ·

Hoekom nou so met ons lede geld,hulle kon nie eers my oorlede broer help nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.