Senzo Meyiwa: Beskuldigde tronkstraf opgelê in ander saak

Senzo Meyiwa. (Foto: soccerladuma.co.za)

Die verhoor van die vyf mans wat teregstaan vir die moord op die voormalige Bafana Bafana-kaptein Senzo Meyiwa, begin Maandag in die Pretoriase hooggeregshof.

Een van die beskuldiges is intussen in ’n onverwante saak tot 12 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy aan poging tot moord skuldig bevind is.

Volgens die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) is Muzi Sibiya in die Vosloorus-landdroshof gevonnis vir die poging tot moord op Ntombenhle Ndaba en Mfanelo Mbatha. Hy het verskeie skote op hulle afgevuur, maar albei het oorleef. Die hof het hom onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

Sibiya word ook daarvan beskuldig dat hy in Desember 2014 gedreig het om sy vriendin te skiet nadat sy glo gedreig het om sy beweerde betrokkenheid in die moord op Meyiwa aan die groot klok te hang.

Sibiya en drie van die ander beskuldigdes, Bongani Sandiso Ntanzi (30), Mthobisi Prince Ncube (36) en Mthokoziseni Maphisa (35), het verlede maand in die Palm Ridge-landdroshof aangedui dat hulle adv. Malesela Teffo aangestel het om hulle te verdedig.

Die vyf beskuldigdes (Foto: ANA)

AfriForum se privaatvervolgingseenheid, wat tans ’n waaksaamheidsopdrag het namens Meyiwa se ma, Ntombifuthi, en susters Zama en Nomalanga Meyiwa, het vroeër gesê hy vind dit vreemd dat die beskuldigdes Teffo wil aanstel aangesien Teffo ook namens ’n familielid van Meyiwa optree.

Sibiya, Ntanzi, Mncube en Maphisa staan saam met SifikuhleNkani Ntuli Sifiso tereg op aanklag van moord, poging tot moord, gewapende roof, die besit van vuurwapens sonder ’n lisensie en die besit van ammunisie.

Meyiwa is op die aand van 26 Oktober 2014 by sy vriendin, die sangeres Kelly Khumalo, se ma se huis in Vosloorus doodgeskiet.

Twee mense het dié betrokke aand by die huis, waar verskeie ander mense teenwoordig was, ingebars. Hulle was gewapen met ʼn vuurwapen en ʼn mes en het geld en selfone geëis.

Die beweerde baasbrein in die moord op Meyiwa is tot op hede nog nie aangekla nie.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het egter vroeër aangedui dat daar genoeg bewyse is om die baasbrein te vervolg vir wat die eenheid glo ’n huurmoord was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marius ·

Hy gaan seker die twee vonnisse gelyktydig uitdien. Twee moorde vir die prys van een…. Wat ‘n grap !!!

Chantel ·

Ek het die naweek die dokumentêr op Netflix gekyk en die hele storie rondom wat gebeur het en die weerspreek van getuienisse is vir my baie vreemd. Ek hoop werklik dat een van hierdie 5 beskuldiges die groot brein agter als sal ontbloot. Ek het wel my eie opinie van wie dit was. Altyd iemand naby aan ons.

Di ·

Stem 100% saam – Het dit ook op Netflix gekyk en ek het ook my bespiegelinge wie die baasbrein agter sy moord is. Glo nie dis een van hierdie 5 nie

Casper ·

Chantelle,ek dink ekweet ook wie is die baasbrein agte die moord.Iewers was ‘n liefdesdriehoek .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.