Senzo Meyiwa: ‘Dit was ’n sluipmoord,’ sê Gerrie Nel

Adv. Gerrie Nel. Foto: Reint Dymeka

“Ons weet nou dat dit nie ’n rooftog is wat verkeerd geloop het nie en dat dit in der waarheid ’n sluipmoord was.”

Só het adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, Maandag gesê nadat Bheki Cele, minister van polisie, aangekondig het dat vyf mense in verband met die moord aangekeer is.

“Die uitdaging is nou om die meesterbrein agter die sameswering tot verantwoording te roep,” het adv. Nel gesê. Volgens die polisie is nog inhegtenisnemings op hande.

Meyiwa, die voormalige Bafana Bafana-kaptein, is ses jaar gelede by sy vriendin se huis in Vosloorus in Ekurhuleni doodgeskiet. Die opspraakwekkende moord het groot kritiek ontlok weens die polisie se oënskynlike onvermoë om ʼn beduidende deurbraak te maak. Daar was die afgelope paar maande boonop hernieude bespiegeling oor wie vir die moord verantwoordelik is.

AfriForum, wat die Meyiwa-familie in die ondersoek na die moord verteenwoordig, het die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) geloof vir die deurbraak, asook die feit dat die SAPD die afgelope paar maande bereid was om Nel en AfriForum se privaatvervolgingseenheid by die ondersoek te betrek.

Kallie Kriel. Foto: Reint Dymeka

Die verdagtes verskyn vandag in die landdroshof in Boksburg. Sifiso Meyiwa, Senzo se broer, het saam met AfriForum aan ’n mediakonferensie oor die saak deelgeneem en sal ook môre se hofverskyning saam met adv. Nel bywoon.

“AfriForum se betrokkenheid by hierdie saak het onder meer gelei tot die verskuiwing van die saak vanaf die direkteur van openbare vervolging (DOV) in Johannesburg na die DOV in Pretoria, wat beteken het dat daar uiteindelik op die sleutelelemente van die saak gefokus kon word.

“Die private ondersoekeenheid het ook hulle ontevredenheid met die samestelling van die SAPD-ondersoekspan onder die aandag van polisiebestuur gebring en nadat sekere veranderinge in die span aangebring is, kon die ondersoek vorder.”

Die ondersoekspan het ’n volle uiteensetting van die feite aan AfriForum se privaatvervolgingseenheid gegee en adv. Nel het die ondersoekspan gekomplimenteer vir hul deeglike ondersoek.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, verdien die Meyiwa-familie en Senzo Meyiwa se ondersteuners om te sien dat geregtigheid geskied. “Die arrestasie van die verdagtes is die begin van die proses om geregtigheid te laat geskied en AfriForum se privaatvervolgingseenheid sal aanhou om die Meyiwa-familie in die saak by te staan.”

Sefiso Meyiwa. Foto: Reint Dymeka

Volgens Kriel is die konstruktiewe samewerking tussen die SAPD en AfriForum in hierdie geval ook ’n voorbeeld van wat bereik kan word as die SAPD en die burgerlike samelewing saamwerk in die stryd teen misdaad.

Senzo Meyiwa se broer, Sifiso, het namens die Meyiwa-familie sy dank teenoor die SAPD en AfriForum uitgespreek met die vordering in die saak. “Hoewel ons dankbaar is oor die arrestasies, is ons bekommerd oor die feit dat die meesterbrein nog nie vasgetrek is nie. Gesien in die lig van die bewese samewerking tussen ons regspan van AfriForum en die SAPD, bly ons steeds vol hoop dat meer inhegtenisnemings gaan volg,” sê Meyiwa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anel

As dit ‘n sluipmoord was, moet daar’ n rede voor wees. Iemand word nie sommer net in ‘n sluipmoord vermoor nie. Sluipmoird is gewoonlik vergelding. Die oorledene moes iets gedoen het of nie gedoen het vir hierdie aksie nie. Delf bietjie in die vermoorde se lewe. Dalk was hy ook nie te onskuldig nie. Verstaan mooi, ek praat nie moord goed nie, en ek is bly dat daar nou vordering gemaak is, maar ek glo daar is ‘n sinistere rede agter die storie. Net my opinie.

Robert

Die waarheid mbt die suksesvolle vervolging is eintlik dat Gerrie Nel die meester met vervolgings is. Hy was die top advokaat in die staat totdat hy agter gekom het met skapie gaan hy nêrens kom nie en toe maar Afriforum toe is. Die polisie kon niks in 5 jaar uitrig nie en toe Afriforum, na die familie hulle gevra het om betrokke te raak, op die wa klim toe is daar beweging. Alle gelukwense moet na Gerrie Nel. Die mense kan sê wat hulle maar die staat het met hulle BEE groot skade aangerig en ‘n hele klomp bevoegde wit… Lees meer »

Hennie J

Vir ses jaar gebeur niks daadwerkliks nie en nou hierdie onthullings wat vir my maar bra skeefgetrek is.Iemand wat daardie aand by daardie huis was gaan heel moontlik as die opdraggewer uitgewys word.

Jaco

Lawyers for Human Rights sal dié saak net so goed soos Afriforum kon hanteer het. Môre oormôre wen Afriforum dalk die saak, maar dan is daar veel minder geld oor om sake te takel wat Afriforum se eintlike belangegroep die meeste raak: sake oor plaasmoorde, regstellende aksie ens.

Paul

AfriForum, is my mense daai!