Senzo Meyiwa-dossier nié ‘vermis’

Senzo Meyiwa Foto: soccerladuma.co.za

Die dossier in die Senzo Meyiwa-moordsaak word nié vermis nie en is by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).

Só het Bheki Cele, minister van die polisie, se woordvoerder Donderdagaand bevestig.

Dit volg nadat lede van die media die minister vroeër vandeesweek in Durban gepeper het met vrae oor die vordering met die moord op die Orlando Pirates- en Bafana Bafana-doelwagter.

“Genl. Bheki Cele het met kommer kennis geneem van die valse verklarings wat aan hom toegeskryf is dat die moorddossier van Senzo Meyiwa vermis word. Die berigte is nie net onwaar nie, maar ook roekeloos en kwetsend vir die Meyiwa-familie en Suid-Afrikaners wat wil sien dat geregtigheid in dié saak geskied,” het Lirandzu Themba, Cele se woordvoerder, in ʼn verklaring gesê.

Cele is by die mediakonferensie gevra waar die dossier is, waarop hy geantwoord het: “Ek glo die dossier is veronderstel om by die vervolgingsgesag te wees, maar ek sal dit moet bevestig.” Hy het ook gesê hy is tevrede dat die polisie goeie werk gedoen het.

Die 27-jarige Meyiwa is sowat vyf jaar gelede in ʼn rooftog by ʼn huis in Vosloorus in Boksburg doodgeskiet. Niemand is nog in verband met die moord aangekeer nie.

Maroela Media het vroeër berig die polisie het destyds ná die moord identikits vrygestel van twee mans wat verdink word van die moord. Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het net daarna erken dat ʼn verdagte in die Boksburg-landdroshof verskyn het in verband met die moord op Meyiwa. Die klagte is later teruggetrek.

Die saak is weer in die nuus nadat die burgerregtegroep AfriForum Dinsdag aangekondig het dat adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se private vervolgingseenheid, as die familie se advokaat in die ondersoek na Meyiwa se dood aangestel is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Judge Dredd ·

Natuurlik nie – dis ‘n polisieman self wat dit gevat het – so nie vermis nie, net misplaas…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.