Senzo Meyiwa-moord: Polisie ontken arrestasies

Senzo Meyiwa Foto: soccerladuma.co.za

Senzo Meyiwa Foto: soccerladuma.co.za

Die polisie het Donderdag berigte ontken dat twee mense in hegtenis geneem is in verband met die moord op Senzo Meyiwa.

Brig. Neville Malila, woordvoerder van die polisie, het gesê die berigte is onwaar. Die SAUK het Woensdagaand berig dat twee mense in hegtenis geneem is. Volgens die openbare uitsaaier is die twee in Nongoma in KwaZulu-Natal in hegtenis geneem en word hulle ondervra. Hulle is volgens die SAUK in hegtenis geneem nadat die polisie ‘n wenk van die publiek af ontvang het.

Meyiwa, kaptein en doelwagter van Bafana Bafana en Orlando Pirates, is Sondagaand tydens ʼn vermeende rooftog by sy vriendin, Kelly Khumalo, se huis in Vosloorus doodgeskiet. The Star berig intussen dat Khumalo se vriende Maandag ʼn Whatsapp-boodskap van haar selfoon af ontvang het waarin daar vir geld gevra word. In die boodskap word daar glo beweer dat Khumalo in hegtenis geneem is vir ʼn spoedoortreding en R3 100 benodig vir borgtog. Die ontvangers van die boodskap word versoek om geld aan ʼn speurder genaamd Sello oor te betaal.

Malila het gesê dit is hoogs onwaarskynlik. Volgens hom het die polisie op Khumalo en ander ooggetuies van die skietery se selfone beslag gelê en dit is eers Woensdag aan hulle terugbesorg. Hy het ʼn beroep gedoen op diegene wat glo geld oorbetaal het om ‘m klag by die naaste polisiekantoor aanhangig te maak.

Meyiwa word Saterdag in Durban begrawe.

Klik hier vir vorige berigte oor Senzo Meyiwa.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.