Senzo Meyiwa-verhoor begin dan

Senzo Meyiwa. (Foto: soccerladuma.co.za)

Die verhoor van die vyf mans wat teregstaan vir die moord op die voormalige Bafana Bafana-kaptein Senzo Meyiwa, begin oor net meer as ʼn week.

Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het bevestig die verhoor sal op 11 April in die Pretoriase hooggeregshof begin.

Dit kom nadat vier van die vyf beskuldigdes verlede maand aangedui het dat hulle van regsverteenwoordiger wil verander.

Muzikawukhulelwa Sthemba Sibiya (34), Bongani Sandiso Ntanzi (30), Mthobisi Prince Ncube (36) en Mthokoziseni Maphisa (35) het verlede maand in die Palm Ridge-landdroshof aangedui dat hulle adv. Malesela Teffo aangestel het om hulle te verdedig.

“Die vier het onlangs in die hooggeregshof in Pretoria verskyn sodat die hof kon vasstel of hulle hul huidige regsverteenwoordigers behou en of hulle die dienste van adv. Teffo gaan gebruik. Die beskuldigdes het bevestig dat hulle die dienste van hul vorige regsverteenwoordigers beëindig het en inderdaad adv. Teffo aangestel het om hulle te verteenwoordig.

“Adv. Teffo het bevestig en dit is geboekstaaf dat hy die vier beskuldigdes verteenwoordig. Hy het genoem dat hy vertoë by die staat ingedien het vir die skrap van die saak.”

Die regter het aangedui die staat het die prerogatief om te besluit wie om aan te kla, en dat indien die verdediging ontevrede is met so ʼn besluit, hulle vry is om ʼn aparte aansoek te bring. Die regter het verklaar dat vertragings in die saak vermy moet word en het ʼn bevel gemaak dat die verdediging hul gereedheid voor of op 28 Maart 2022 moet aandui, om met die verhoor voort te gaan waarna die saak tot 11 April uitgestel is vir verhoor.

Die vyf beskuldigdes (Foto: ANA)

AfriForum se privaatvervolgingseenheid, wat tans ’n waaksaamheidsopdrag het namens Meyiwa se ma, Ntombifuthi, en susters Zama en Nomalanga Meyiwa, het vroeër gesê hy vind dit vreemd dat die beskuldigdes Teffo wil aanstel aangesien Teffo ook namens ’n familielid van Meyiwa optree.

Sibiya, Ntanzi, Mncube en Maphisa staan saam met SifikuhleNkani Ntuli Sifiso tereg op aanklag van moord, poging tot moord, gewapende roof, die besit van vuurwapens sonder ’n lisensie en die besit van ammunisie.

Meyiwa is op die aand van 26 Oktober 2014 by sy vriendin, die sangeres Kelly Khumalo, se ma se huis in Vosloorus doodgeskiet.

Twee mense het dié betrokke aand by die huis, waar verskeie ander mense teenwoordig was, ingebars. Hulle was gewapen met ʼn vuurwapen en ʼn mes en het geld en selfone geëis.

Die beweerde baasbrein in die moord op Meyiwa is tot op hede nog nie aangekla nie.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het egter vroeër aangedui dat daar genoeg bewyse is om die baasbrein te vervolg vir wat die eenheid glo ’n huurmoord was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Casper ·

As dit ‘n huurmoord was,wie sit dan werklik agter die moord.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.