Senzo Meyiwa-verhoor tot môre uitgestel

Senzo Meyiwa. (Foto: soccerladuma.co.za)

Die verhoor van die vyf mans wat van die moord op die voormalige Bafana Bafana-kaptein Senzo Meyiwa beskuldig word, is tot môre (Dinsdag) uitgestel.

Die verhoor is uitgestel om die vyfde beskuldigde, SifikuhleNkani Ntuli Sifiso, se regsverteenwoordiger die geleentheid te bied om met haar kliënt te konsulteer.

Adv. Zandile Mshololo het vroeër vandag in die Pretoriase hooggeregshof aangedui het dat sy nog nie met haar kliënt kon konsulteer nie omdat die staat eers op 30 Maart sekere belangrike getuieverklarings aan die verdediging verskaf het.

Volgens die staat is die verklarings tot onlangs van die verdediging weerhou omdat die betrokke getuies vir hul lewens vrees en hulle eers in die getuiebeskermingprogram geplaas moes word voordat hul verklarings blootgelê kon word.

Mshololo het voorts verduidelik dat haar kliënt tronkstraf in Kokstad uitdien terwyl haar kamers in Durban, sowat 260 km vandaar, geleë is.

Die departement van korrektiewe dienste het boonop glo haar versoeke om konsultasie met haar kliënt geweier.

Regter Tshifhiwa Maumela het die aansoek om uitstel toegestaan en ook beveel dat konsultasie tussen die beskuldigdes en hul verteenwoordigers deur die departement gefasiliteer moet word.

Die staat het nie die aansoek teengestaan nie.

Adv. Phyllis Vorster. Slang Maangwale, Anna Shabalala (ondersteuner van Senzo), adv. Gerrie Nel, Zama Meyiwa, Nomalanga Meyiwa, Thalita de Jongh, Heidi Mogashoa en Andrew Ludick Maandag buite die Pretoriase hooggeregshof. (Foto: Verskaf)

Adv. Malesela Teffo, die regsverteenwoordiger van die ander vier beskuldigdes, Muzikawukhulelwa Sibiya, Bongani Sandiso Ntanzi, Mthobisi Prince Mncube en Mthokoziseni Maphisa, het wel aanvanklik aangedui dat hy die aansoek gaan teenstaan omdat hy gereed is om voort te gaan met die saak.

Teffo het later gesê hy sal nie die aansoek teenstaan nie mits die uitstel minder as 24 uur is en toe gevra of die beskuldigdes oornag in die polisieselle gehou kan word om konsultasie toe te laat. Regter Maumela het dié versoek nie toegestaan nie.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid sê dit is teleurstellend dat die verhoor tot môre uitgestel is, maar meen die versoek om uitstel is redelik.

“Ons sal voortgaan om die verrigtinge te monitor om te verseker dat die Meyiwa-familie uiteindelik geregtigheid kry vir die sinnelose moord op Senzo byna agt jaar gelede,” het adv. Gerrie Nel, hoof van die privaatvervolgingseenheid, gesê.

Meyiwa is op die aand van 26 Oktober 2014 by sy vriendin, die sangeres Kelly Khumalo, se ma se huis in Vosloorus doodgeskiet.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ’n waaksaamheidsopdrag namens Meyiwa se ma, Ntombifuthi, en susters Zama en Nomalanga Meyiwa, in die saak.

Maroela Media het vroeër vandag berig een van die beskuldigdes, Sibiya, is in ’n onverwante saak tot 12 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy aan poging tot moord skuldig bevind is.

Sibiya is in die Vosloorus-landdroshof gevonnis vir poging tot moord op Ntombenhle Ndaba en Mfanelo Mbatha. Hy het verskeie skote op hulle afgevuur, maar albei het oorleef. Die hof het hom onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.