Sepie-akteurs gepos oor hulle staak

Generations_logo_2009_1Die vervaardigers van die sepie Generations het 16 akteurs afgedank omdat hulle gestaak het, het die SAUK Maandag gesê.

“MMSV Productions het na konsultasie met die SAUK die kontrakte van die stakende akteurs in die SABC1-sepiedrama Generations beëindig,” het Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SAUK, in ‘n verklaring gesê.

Kganyago sê die beëindiging van die akteurs se kontrakte kom nadat albei partye ‘n beroep op die akteurs gedoen het om terug te keer vir opnames nadat hulle met ‘n onwettige staking begin het.

Die 16 akteurs het vandeesweek begin staak. Hulle beweer dat die openbare uitsaaier en die vervaardigers nie beloftes wat tydens verlede jaar se staking aan hulle gemaak is, nakom nie. Hulle is glo driejaarkontrakte en salarisaanpassings beloof.

Die akteurs het Maandag in ‘n ope brief aan kykers en ondersteuners verduidelik hoekom hulle staak.

Die akteurs sê hoewel Generations die gewildste sepie in Suid-Afrika is, word hulle baie swakker as die norm in die bedryf betaal.

“Die SAUK voer aan dat ons buitensporige salarisse betaal wil word, maar dit is eenvoudig nie waar nie. Ons mede-akteurs op dieselfde platform, naamlik die SAUK, word baie beter betaal, so dit is moontlik.”

Die akteurs sê hulle het tydens die staking in Oktober betalingstariewe voorgestel.

MMSV Productions het glo in November ingestem om die tariewe te betaal op voorwaarde dat die SAUK dit ook doen.

Die SAUK het vir meer tyd gevra om die voorgestelde tariewe te hersien en het glo beloof om teen Maart ‘n antwoord te gee. Die SAUK het glo die spertyd bly uitstel.

Die akteurs sê dit het teen einde Julie duidelik geword dat die SAUK se aanhoudende versoek om uitstel net ‘n vertragingstegniek was en dat die uitsaaier nie van voorneme is om die salarisse aan te pas nie.

Kganyago sê die SAUK en MMSV Productions het maatreëls in plek gestel om die toekoms van Generations te verseker.

Van die akteurs wat afgedank is, is Menzi Ngubane, wat die rol van die sakeman Sbusiso Dlomo speel, Nambitha Mpumlwana (Mawande), Patrick Shai (Patrick Tlaole), Sophie Ndaba (Queen Ndaba), Seputla Sebogodi (Kenneth Mashaba), Winnie Ntshaba (Khetiwe Buthelezi) en Katlego Danke (Dineo Dlomo).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Paplepel ·

Sal graag wil sien hoe hulle hierdie een gaan buig. Daar is net soveel keer wat jy ‘n plastiese chirurg kan gebruik of iemand uit ‘n stort kan laat stap (Dallas) voor die hele storie tot niet gaan. Dalk is dit nou tyd vir ‘n nuwe sepie met nuwe akteurs.

estelle ·

Gewildste?? wat van Muvhango, Isidingo en moet glad nie 7de Laan vergeet nie!!! gelukkig kan die staking nie ons ekonomie belemmer nie! Kla met ‘n witbrood onder die arm!

Chivago ·

Goed so – kan dit nie maar met alle stakers in alle sektore gebeur nie? Hierdie stakers hou almal gyselaar en dit moet stop! As jy nie gelukkig is met jou salaris, werksomstandighede en voorwaardes nie – BEDANK en kry vir jou iets waarmee jy tevrede is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.