Sepie-aktrise se moordenaar gevonnis

Thandeka Mdeliswa.

ʼn 25-jarige man is Woensdag gevonnis in verband met die moord op Thandeka Emigrant Mdeliswa (34), wat veral bekend was vir haar rol as Khanya in die sepie iKani wat op SABC1 uitgesaai word.

Siyabonga Mbatha (25) van KwaZulu-Natal is in die Middelburgse hooggeregshofsitting in Mpumalanga tot 25 jaar tronkstraf gevonnis op aanklag van moord en die onwettige besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. Mbatha het skuld beken op alle aanklagte, het Monica Nyuswa, streekswoordvoerder vir die direkteur van openbare vervolging, in ʼn verklaring gesê.

“In sy pleitooreenkoms het Mbatha gesê hy en sy vriend Ndabandaba is op 3 September 2020 na die oorledene se broer in Evander om ʼn selfoon te gaan haal. Toe hulle opdaag, was daar ʼn stryery oor geld wat die broer glo gesteel het. Thandeka het die onderonsie gehoor en uit haar voertuig geklim. Mbatha het Ndabandaba se vuurwapen gegryp en Thandeka in die nek geskiet voor hy van die toneel gevlug het.”

Sy is na ʼn hospitaal geneem waar sy twee dae later aan haar beserings beswyk het.

Mbatha is ʼn paar dae later saam met twee medebeskuldigdes in hegtenis geneem. Aanklagte is egter later teen die ander twee teruggetrek toe hulle nie met die misdaad verbind kon word nie.

Thandeka se ma het ter verswaring van vonnisoplegging getuig. “Sy het die traumatiese gevolge beskryf van haar dogter se moord. Sy het maagsere ontwikkel weens spanning sedert haar dogter se afsterwe.”

Senior staatsaanklaer adv. Bakedi Maoke het gesê die hof het ʼn plig om vonnisse op te lê wat die gemeenskap se woede oor geslagsgebaseerde geweld uitbeeld. Sy het bygevoeg Mbatha het ʼn minderjarige kind op ʼn jong ouderdom beroof van haar ma.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.