Sepie-aktrise wat glo dwelms smokkel weer in hof

Argieffoto

Argieffoto

Die sepie-aktrise wat wyd opslae gemaak het nadat sy verlede Sondag by die OR Tambo internasionale lughawe met R4,6 miljoen se dwelms in haar besit betrap is, sal agter tralies bly.

Ottilia Mmatjatji Malatji (29) van Ivory Park aan die Oos-Rand het Woensdag vlugtig in die Kempton Park-landdroshof verskyn waar sy om borgtog sou aansoek doen. Sy het egter haar borgtogaansoek laat vaar. Die hof was volgepak met vriende en familie van Malatji wat daar was om haar te ondersteun.

Adv. Leon Khoza, Malatji se regsverteenwoordiger, het aangedui dat sy nie om borgtog sal aansoek doen nie. Hy wou egter nie aan joernaliste bevestig of sy kliënt skuld op die aanklagte teen haar gaan erken of ontken nie. Die saak is tot 27 November uitgestel.

Malatji is by die lughawe in hegtenis geneem toe sy probeer het om deur die “niks om te verklaar nie”-kanaal by die doeane te glip, maar deur beamptes voorgekeer is. Meer as 15 kg efedrien, ʼn hoofbestanddeel in metafetamien, is glo in haar besit gevind. Sy het pas vanaf Abu Dhabi geland.

Sosiale media het behoorlik gegons nadat dit aan die lig gekom het dat ʼn “bekende sepiester” in hegtenis geneem is en die hutssleutel #GuessTheActress was een van die top-besprekingspunte op Twitter. Dit het later aan die lig gekom dat Malatji ‘n relatief onbekende aktrise is wat slegs as ʼn byspeler in sepies soos Isidingo, Rhythm City, Skeem Saam en Scandal verskyn het.

© RDM News Wire

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

scalla ·

Het maroela se skrywer nie berig dat dit n bekende aktrise was aan die begin nie, onbekende dwelm muil wat uitgevang is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.