Sersant, vrou wou vermeende verkragter uitbuit

Argieffoto (Foto: SAPD/Facebook)

ʼn Sersant in die polisie en ʼn vrou het vandeesweek in die Kriel-landdroshof verskyn op aanklag van korrupsie, uitbuiting, dwarsboming van die gereg en oortreding van die Immigrasiewet.

Kol. Donald Mdhluli, woordvoerder van die polisie, sê Mpumelelo Dlamini (33) het glo aangevoer sy is deur ʼn manlike vriend verkrag. Sy het ʼn bedrag van R1 500 van hom geëis in plaas daarvan om na die polisie te gaan.

“Die saak is onder die aandag van sers. Santana Mtsweni (40) gebring. Hy werk as ʼn speurder by Kriel-polisie en hy het op sy beurt ʼn bedrag van R8 000 van die vriend geëis.”

Die vriend het R1 000 aan Mtsweni oorbetaal, maar toe hy nog geld eis, het die vriend besluit om die saak aan te meld.

“Die polisie het opgedaag toe Mtsweni nog geld in ontvangs geneem het. Hy en Dlamini is vinnig in hegtenis geneem.”

Die polisie het tydens hul ondersoek bevind dat Dlamini oorspronklik van Eswatini is en sy is onwettig in Suid-Afrika. Sy het nie ʼn paspoort nie en die aanklag van oortreding van die Wet op Immigrasie is aanhangig gemaak.

“Mtsweni is vrygelaat op borgtog van R2 000 toe hy in die hof verskyn het. Dlamini bly in aanhouding en moet op 5 Mei weer in die hof verskyn.”

Lt.genl. Semakaleng Daphney Manamela, provinsiale polisiekommissaris, het die beamptes geloof dat hulle vinnig sonder vrees of guns opgetree het en gewys het dat niemand bo die wet verhewe is nie. Sy het ander beamptes gewaarsku om hulle nie aan korrupsie skuldig te maak nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.