Ses bedreigde wildehonde vergiftig

In Suid-Afrika is daar tans net sowat 650 Afrika-wildehonde oor. (Foto: Christel Cornelissen)

Die toenemende vergiftiging van bedreigde wildehonde in Suid-Afrika hou verwoestende gevolge vir die hele bevolking van die Afrika-wildehond in.

Só het die Waterberg-wildehondinisiatief (WWDI) en die Endangered Wildlife Trust (EWT) vandeesweek gesê nadat ses wildehonde verlede week vergiftig is.

Hulle was deel van ʼn trop wat toegewyde natuurbewaarders sedert 2020 met behulp van halsbande met opsporingstoestelle monitor en staan bekend as die TOOG Area Pack.

Die wildehonde se oorskot is by die Mountain View Bush Lodge, ʼn private wildreservaat suid van Lephalale, gevind. Dit is die middelpunt van die trop se swerfgebied. Die plek waar die ses wildehonde vergiftig is, is egter nog nie vasgestel nie en vorm tans deel van ʼn ondersoek.

Ses wildehonde is verlede week suid van Lephalale vergiftig. (Foto: Verskaf)

“Konflik tussen mense en groot karnivore is ʼn bedreiging vir dié diere wêreldwyd,” het die EWT en WWDI in ʼn gesamentlike verklaring gesê.

“Konflik ontstaan ​​hoofsaaklik wanneer karnivore vee en wild jag, wat tot die vergeldende vervolging van karnivore deur boere lei.”

Die bewaringsgroepe sê in die Waterbergstreek ontstaan konflik hoofsaaklik wanneer karnivore wildspesies jag. Dit is vir wildboere in dié gebied ʼn groot probleem oor die opkoms van die wildboerderybedryf en die groot finansiële waarde van wild.

Dit laat wildehonde in dié gebied egter kwesbaar.

“Met minder as 650 Afrika-wildehonde in Suid-Afrika oor, is die beveiliging van die oorblywende bevolking uiters belangrik.

“Die Waterberg-wildehondbevolking word op minder as 30 wildehonde geskat. Hierdie bevolking verskil geneties van bevolkings in onderskeidelik die Krugerwildtuin en private reservate in Suid-Afrika. As ʼn spesie op die rand van uitsterwing is dié bevolking dus baie belangrik.”

Onlangse pogings deur natuurbewaarders en die gemeenskap om wildehonde in die streek te beskerm, lyk egter belowend.

Oor die afgelope drie jaar het 55 private plase saam met natuurbewaarders gewerk om die TOOG-trop te beskerm. Dit het die trop beduidend versterk en gehelp om met agt troplede te groei. Dit het dit moontlik gemaak om die Afrika-wildehondbevolking in drie voorheen beskermde gebiede te hervestig.

Die toegewyde bewaringsgebied strek oor 125 000 ha.

Die betrokke span bewaarders is gereeld met grondeienaars in gesprek om die gemeenskap van die trop se bewegings op hoogte te hou en konflik sover moontlik te beperk.

Bykomende ekotoerismeprojekte word ook gereeld van stapel gestuur terwyl wild ook aan grondeienaars wat help om hierdie diere te bewaar, geskenk word. Dit is om te vergoed vir wildverliese wanneer wildehonde op hul eiendom gehuisves word.

“Dit is steeds onbekend wie die honde vergiftig het of vir watter rede, maar ondersoeke duur voort. Vergiftiging is ʼn onoordeelkundige, onetiese en onwettige metode wat gebruik word om roofdiere uit te roei.

“Die wildehonde sou geweldige pyn gehad het voordat hulle gevrek het. Die sinnelose daad het die pogings van die 55 private plase ondermyn wat ʼn groot rol speel in die bewaring van die vrylopende bevolking, asook die Waterberge se biodiversiteit, die erfenis van Suid-Afrika en die pogings van natuurbewaarders.”

Die WWDI loof ʼn beloning uit vir inligting oor die vergiftiging van die wildehonde wat tot die suksesvolle vervolging van die skuldiges kan lei.

Om inligting in dié verband aan te meld, kontak ao. Cois van Deventer van die polisie se eenheid vir bedreigde spesies by 082 872 1741.

Vir meer inligting, besoek www.waterbergwilddogs.org.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marthinus Johannes ·

Roofdiere in die natuur het eerste aanspraak op wild wat hul natuurlike voedselbron is.

Perdevy ·

Tyd dat die piepols uitgedun raak. 55 miljoen piepols vs 650 .wildehonde wat bitter swaar leef sonder SASSA

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.