Ses bekers op ’n streep vir Blitsbokke!

Die Blitsbokke het nóg ’n sewestoernooi gewen. Foto: Twitter via Springbok Sevens.

Australië is tans op die kruin van die wêreldsportgolf: Die land se krieketspan het Engeland ore aangesit in die pasvoltooide Reeks om die As, sy netbalspan is die wenners van die vierhoekige reeks in Londen en Ashleigh Barty het die afgelope Saterdag die eerste Grand Slam-tennistitel van die jaar verower.

Maar hul manssewesrugbyspan het gisteraand in Sevilla sy moses teëgekom teen die Blitsbokke.

Die Suid-Afrikaners het die bekereindstryd met 33 – 7 gewen om hul sesde agtereenvolgende sewestoernooi te wen. Hulle het nou al 34 wedstryde op ’n streep gewen en is loshande die voorlopers op Wêreldrugby se sewespunteleer.

Oudergewoonte moes hulle weer ’n agterstand uitwis om met die uiteindelike louere weg te stap. Dit is maar net nog ’n klinkklare bewys van die Blitsbokke se vermoë om na ’n hoër rat oor te skakel soos wat die wedstryd vorder.

Christie Grobbelaar het twee drieë gedruk en hy is welverdiend as die speler van die eindstryd aangewys.

“Hierdie was ongetwyfeld ’n spanpoging; elke speler in die span het sy rol uitstekend vertolk,” het Grobbelaar gesê.

Hoewel die toernooivertoning in Sevilla nie seepglad verloop het nie, is die Blitsbokke nou al doodeenvoudig net daaraan gewoond om wedstryde te wen.

En gewoontes op die sportveld word immers deur harde werk op die oefenveld gekweek.

“Dit was ’n klipharde toernooi en ons het met tye nie goed gespeel nie. Tog het ons bly glo; hierdie oorwinning spreek boekdele van die harde werk wat ons op die oefenveld in Stellenbosch doen.”

Impi Visser, wat die span in Shakes Soyizwapi se afwesigheid aangevoer het, is trots op sy span se vertoning in die eindstryd.

“Dit was nogal ’n emosionele wedstryd vir ons want ons moes diep delf om uiteindelik te wen. Die Aussies is taai teenstanders en ons span se karakter en veerkragtigheid is beslis getoets, maar ons wou bitter graag die wedstryd wen,” het Visser gesê.

Algehele sewespunteleer:

  1. Suid-Afrika: 88 punte
  2. Argentinië: 70 punte
  3. Australië: 66 punte
  4. VSA: 55 punte
  5. Frankryk: 46 punte
  6. Ierland: 46 punte
  7. Engeland: 38 punte
  8. Kenia: 31 punte
  9. Spanje: 29 punte
  10. Groot-Brittanje: 25 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Skim ·

So trots op die Blitsbokke! Ek hoop net hul kry ook so groot verwelkoming terug in SA, as die Springbokspan want hul verdien dit.

boerie ·

Daar is een ding waarop hulle sal moet verbeter, om n oordentlike duikslag uit te voer. Die meeste van hulle probeerslae lyk asof hulle die ander span se spelers wil soen met al die om die bolyf gegrypery. Maak die oefen duiksakke korter dit sal dalk help.

Casper ·

Ek het ‘n voëltjie hoor fluit dat Neil Powell nou die Sharks gaan afrig.Daar is ‘n groot verskil om sewes af te rig en 15 man rugby afte rig.Hy pluk nou die vrugte van jare se harde werk en nou raak hy gulsig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.