Ses binne ure ná rooftogte vasgetrek

Argieffoto: SAPD

Ses verdagtes wat na bewering betrokke was by twee verskillende huisrooftogte in Port Elizabeth in die Oos-Kaap is binne ʼn kwessie van 24 uur in hegtenis geneem.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, woordvoerder van die polisie, het gesê drie vermeende huisrowers is Woensdag teen 09:00 in hegtenis geneem in verband met ʼn huisroof wat omstreeks 01:15 plaasgevind het.

Volgens Janse van Rensburg het die 29-jarige eienaar van ’n huis in Virgostraat in Helenvale gelê en slaap toe sy vriendin ʼn geklop aan die voordeur gehoor het. Sy het na die voordeur toe gestap waar ʼn verdagte daarop aangedring het dat sy die deur moet oopmaak sodat hy sigarette kan koop. Die eienaar het wakker geword en op sy beurt vir die verdagte gesê om te loop. Die verdagte het egter volgehou dat hy sigarette wil koop waarna die eienaar bes gegee en die deur oopgemaak het.

Drie verdagtes het toe by die huis ingestorm en twee pare tekkies, ʼn baadjie, ʼn paar pakkies sigarette en ʼn klein bedrag kontant gesteel waarna hulle op die vlug geslaan het. Die eienaar het al drie die verdagtes herken wat ure later in hegtenis geneem is in verband met dié voorval. Die gesteelde goedere is nie teruggekry nie, het Janse van Rensburg gesê.

’n Soortgelyke voorval is Dinsdag by die polisie aangemeld hoewel dit reeds oor die naweek plaasgevind het. Die verdagtes betrokke by dié voorval is gister, dieselfde dag waarop die voorval aangemeld is, aangekeer.

In dié voorval het die eienaar van ʼn huis in Bongostraat in Helenvale Saterdag omstreeks 23:25 gelê en slaap toe hy ʼn gekap en ʼn geskop aan die voordeur gehoor het. Die verdagtes het hom by sy naam geroep en daarop aangedring dat hy die deur oopmaak.

Een van die verdagtes het toe die diefwering van ʼn venster oopgebuig en só toegang tot die huis verkry. Die verdagte het ʼn vuurwapen op die eienaar gerig en hom forseer om die voordeur vir sy makkers oop te maak.

Vier verdagtes het dié huis geplunder waarna hulle op die vlug geslaan het met juweliersware en twee selfone ter waarde van R25 500. Nadat die voorval gisteroggend by die polisie aangemeld is, het dit beamptes enkele ure geneem om drie van die verdagtes in hegtenis te neem.

Janse van Rensburg het aan Maroela Media gesê hoewel albei voorvalle in Helenvale plaasgevind het en in sekere opsigte ooreenstem, blyk dit egter nie in dié stadium dat die voorvalle met mekaar verband hou nie.

“Die eerste drie is gister in hegtenis geneem en die ander drie is vanoggend in hegtenis geneem,” het sy gesê.

Al die verdagtes sal na verwagting vandeesweek nog in die Port Elizabeth-landdroshof verskyn op aanklagte van huisroof.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Heksie ·

Nou hoekom kan al die polisie stasies reg oor die land / eenhede nie sulke resultate lewer nie?
Wel gedaan julle!!!

wonder maar net ·

Dis vir net so snaaks sekere gevalle word verdagtes nog dieselfde dag gevang… hoeveel van die plaas moorde hoor mens waar die verdagtes wel gevang is… bitter min!! Laat mens wonder!!

willem botha ·

Wie was die verdagtes gee beter beskrywing dat ons weet wie verantwoordelik is vir die misdaad in SA

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.