Ses familielede dood in huis gevind

(Foto: SA Polisie)

ʼn Geregtelike doodsondersoek is gelas nadat ses lede van ʼn familie, onder wie vier kinders, dood in ʼn huis in Thaba Nchu buite Bloemfontein in die Vrystaat gevind is.

ʼn Werknemer van ʼn hardewarewinkel het Woensdag by die Thaba Nchu-polisiestasie opgedaag en aangevoer dat hy sy werkgewer 10 dae laas gesien het, het kol. Thandi Mbambo, polisiewoordvoerder, gesê.

“Polisiebeamptes is na die adres wat verskaf is en is met ʼn sterk stank begroet. Die beamptes moes deur ʼn venster toegang tot die huis verkry aangesien al die deure gesluit was.”

Volgens Mbambo is die liggame van ses familielede in die huis gevind. Daar is eers op ʼn 44-jarige man en twee meisies, agt en 10 jaar oud, afgekom waarna die liggaam van ʼn driejarige seuntjie ook gevind is.

Nadat die huis verder deursoek is, is daar in ʼn kamer op ʼn 38-jarige vrou en ʼn 11-jarige seun se liggame afgekom.

“Daar was geen sigbare beserings aan die liggame nie, maar die liggame was opgeswel. Nadoodse ondersoeke sal gedoen word om die oorsake van die familielede se dood te bepaal.”

Volgens Mbambo word daar beweer dat die oorledenes van die DRK afkomstig is en in Thaba Nchu gewoon het.

Die polisie ondersoek die voorval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.