Die Limpopo-polisie het ʼn soektog van stapel gestuur na ses verhoorafwagtende gevangenes, waarvan twee van moord verdink word, wat op twee afsonderlike voorvalle uit wettige aanhouding ontsnap het.
Lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder, het gesê die jongste voorval het Woensdagoggend in Lulekane buite Phalaborwa plaasgevind.
“Twee gevangenes kon daarin slaag om naby die GaSelwane-nedersetting uit ʼn polisievoertuig te ontsnap terwyl hulle na Phalaborwa geneem is om in die hof te verskyn,” het Ngoepe gesê.
Hy het die verdagtes as Chris Matlou (27) en Jonathan Ngoako (28) geïdentifiseer. Matlou is in hegtenis geneem op aanklagte van moord en verkragting. Ngoako word van verkragting aangekla.
In die ander voorval het vier verdagtes Dinsdagaand uit die aanhoudingselle van die Sekgosese-polisiestasie, suidoos van Louis Trichardt, ontsnap.
“Hulle is Lucky Nchaupa (20) van die Thakgalane-nedersetting wat vir moord in hegtenis geneem is, Sunnyboy Maleka (32) van die Raphahlelo-nedersetting wat vir inbraak in hegtenis geneem is, Sekgopotso Cafus Nakana (30) van Bolobedu wat vir roof in hegtenis geneem is en Thabang Mashashane (25) van Sephukhubje wat vir verkragting in hegtenis geneem is.”
Meer besonderhede oor dié ontsnapping is nie bekend gemaak nie.
Die polisie ondersoek die omstandighede rakende albei ontsnappings.
Die polisie het ʼn beroep op die publiek gedoen om kapt. Richard Boshomane by 079 894 5501 of Stop Misdaad by 08600 10111 te bel met inligting oor waar die ontsnaptes hulle mag bevind.
Foto’s van die verdagtes is nog nie uitgereik nie.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
12 Kommentare
Net laasweek het ses hier in Pretoria ook ontsnap. Wys maar net hoe geldgurig die bewaarders is. Hopeloos te geldgurig.
Al weer
Altyd ontsnappings in Limpopo. Daar is iets groot fout in daardie provinsie. Tyd dat daar na hulle ondersoek ingestel word.
Nou gaan hulle maar net weer aan waar hulle laas opgehou het , moor en verkrag, inbreek en roof.
in Amerika sou hulle al in die dodesel gesit het of 50 jaar gevangenisstraf sonder enige sprake van parool.
Die polisie het ook geen trots en inbors meer nie ek wonder hoe hulle hul kinders in die oë kyk en vir hulle sê om vandag hulle beste te doen.