Ses huurmoordenaars swaar gestraf

Argieffoto

Ses mans wat ʼn skrikbewind in die Oos-Kaap gevoer het en waarin vyf mense gesterf het, is swaar in die provinsiale hooggeregshof gestraf.

Kapt. Anelisa Feni, woordvoerder van die Valke, het gesê die mans, almal huurmoordenaars, is Donderdag gevonnis.

Ntsikelelo Manani (39) is vier lewenslange vonnisse opgelê sowel as ʼn bykomende 20 jaar tronkstraf; Vuyani Sibanda (49) is tot lewenslange tronkstraf gevonnis en ʼn bykomende 30 jaar tronkstraf opgelê; Thabiso Mini (34) het lewenslank en ʼn bykomende 26 jaar tronkstraf gekry; Makhaya Qwala (51) is 45 jaar tronkstraf opgelê; Isaac Piri (76) is tot 35 jaar tronkstraf gevonnis en Sakhele Magasana is ʼn vonnis van 35 jaar tronkstraf opgelê.

Die verdagtes is in Augustus 2010 deur die Valke vasgetrek.

Sibanda was glo die leier van die groep en was verantwoordelik vir die moord op Ntuthuzelo Makeleni (55), Thozama Tenge (29), Nontsikelelo Sibamba (67), kapt. Sandile Duka (61) en Mshicilili Nditha (46).

“Makeleni is vermoor in ʼn huurmoord wat deur Makeleni se vrou en Sibanda georkestreer is. Manani en Piri was die skieters. Ná Makeleni het Sibanda nog twee huurmoorde gereël,” het Feni gesê.

Manani en Piri het op Sibanda se opdrag vir Tenge vermoor vir beweerde heksery. Hulle het volgens Feni ook vir kapt. Duka by ʼn huis in King William’s Town vermoor.

“Nog twee onskuldige slagoffers, Sibamba, wat ook beskuldig is van heksery, en Nditha, van Fort Beaufort, is ook vermoor,” het Feni gesê. Nditha het ʼn maatskappy besit was kontantlenings verskaf het.

“Asof dit nie genoeg is nie is Manani, Piri, Magasana en Qwala ook verbind met ʼn gewapende roof in Quigney in Oos-Londen wat in 2010 uitgevoer is.”

Lt.genl. Yolisa Matakata, waarnemende nasionale hoof van die Valke, het die mans se skuldigbevinding en vonnisse verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Goeie nuus ·

Goeie nuus, about time dat hulle vasgevat word, te veel onskuldige mense sterf aan die hand van sulke geweldenaars.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.