Ses in hof ná Ngcobo-polisiemoorde

Die verdagtes in die hof. Foto: Verskaf.

Die ses mans wat beskuldig word dat hulle in Februarie verantwoordelik was vir die moord op vyf polisiebeamptes en ʼn soldaat wat nie aan diens was nie, het Maandag vlugtig in die Ngcobo-landdroshof in die Oos-Kaap verskyn.

Andani Monco, Kwanele Ndlwana, Siphosomzi Tshefu, Siphesihle Tatsi, Phumzile Mhlatywa en Phutumile Mancoba is almal in hegtenis geneem ná ʼn gewapende roof by die Ngcobo-polisiestasie. Hulle staan tereg op aanklagte van moord, poging tot moord en roof met verswarende omstandighede.

Die saak is uitgestel tot 14 Junie vir nadere ondersoek.

Tydens ʼn borgtogaansoek het dit aan die lig gekom dat die verdagtes glo twee polisiebeamptes in ʼn lokval gelei en vermoor het langs Hoërskool Nyanga en hulle beroof het van hul voertuie en amptelike vuurwapens [ʼn R5-geweer en ʼn pistool].

Die mans het toe op die vlug geslaan met die polisievoertuig. Dit is na bewering gebruik om die rooftog by die Ngcobo-polisiestasie uit te voer.

Nog drie polisiebeamptes is by die stasie vermoor.

Fred Mpandeni, ʼn soldaat wat nie aan diens was nie, is ook tydens die aanval dood – daar word vermoed hy het gaan ondersoek instel nadat hy geweerskote gehoor het.

Die verdagtes het tien wapens en meer as 100 patrone en koeëlvaste baadjies gesteel.

Die koelbloedige moord van die soldaat en polisiebeamptes het destyds skokgolwe deur die land gestuur. Die verdagtes is kort ná die aanval by die Mancoba Seven Angels-kerk in hegtenis geneem. Sewe verdagtes, onder wie drie van die Mancoba-broers, Thandazile, Xolisa en Philile Mancoba, is tydens ʼn skietgeveg tussen die verdagtes en die polisie dood.

Intussen sal twee van die beskuldigdes, Monco en Ndlwana, ook Woensdag in die Umzimkhulu-landdroshof verskyn in verband met ʼn ander onverwante saak.

Aanklagte van roof en moord staar die twee mans in die gesig nadat pastoor Ndumiso Jali en sy vrou doodgeskiet is op hul perseel in Clydesdale in Umzimkhulu twee weke voor die Ngcobo-polisiemoorde.

Die mans bly in aanhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Justice ·

Gewone misdaad, hierdie aanval is kamstig as ‘n geloofsmisdaad beskou, of ‘n sektemisdaad (net omdat die ouens in die kerk geskuil het), dit is absoluut twak .. dit is gewone misdadigers wat deesdae deur die wet beskerm word NET tot hulle die wetstoepassers aanvat dan is dit nie meer so lekker nie. Hulle behoort seker borg te kry van R500 soos al die ander plaasmoordenaars dan nie? Mos geen gevaar vir die samelewing nie. Julle sien mos daar was al sake teen die manne maar niks aan gedoen nie . so laat hulle maar weer vry . dis mos JUSTICE in SA.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.