Ses verdagtes, waar onder ʼn minderjarige, het Woensdag in Zeerust-landdroshof verskyn in verband met ʼn aanval op ʼn plaas in die omgewing waartydens ʼn 71-jarige boer aangerand en beroof is.
Kol. Sabata Mokgwabone, provinsiale polisiewoordvoerder van Noordwes, het Donderdag aan Maroela Media gesê die verdagtes is Kedumetse Pile (27), Tshokolo Lefallo (25), Sello Mooketsi (24), Obakeng Morakeng (23) en Olebogeng Moreimang (22). Die minderjarige se identiteit mag ingevolge die Kinderwet nie bekendgemaak word nie.
Die saak is tot 4 April uitgestel vir verdere ondersoek. Die volwassenes bly in aanhouding en die minderjarige is onder sy ouers se toesig.
Die 17-jarige, is verlede week Donderdag in hegtenis geneem in ʼn gesamentlike poging deur boere in die omgewing en die polisie. Hy het glo ʼn vuurwapen en kontant, wat vermoedelik op die plaas gesteel is, by hom gehad. Maandag is die gesamentlike poging voortgesit en die boere het die polisie gehelp om verskeie klopjagte uit te voer, waartydens die ander vyf verdagtes in hegtenis geneem is.
Maroela Media het vroeër berig die ses verdagtes was gewapen met byle en pangas toe hulle die plaas betree het. Hulle het die boer aangerand en sy werknemer vasgebind. Volgens Mokgwabone het die rowers twee vuurwapens en kontant van die boer gesteel.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
1 Kommentaar
Meer sulke gevalle sal moontlik plaasaanvalle verminder.