Ses in hof oor moord op fluitjieblaser

Babita Deokaran is verlede week vermoor.

Ses mense het in die Johannesburgse landdroshof verskyn in verband met die moord op Babita Deokaran, waarnemende finansiële hoof van die Gautengse departement van gesondheid.

Deokaran is verlede Maandag buite haar huis in die suide van Johannesburg doodgeskiet.

Phakamani Hadebe, Zitha Hadebe, Nhlangano Ndlovu, Sanele Mbhele, Simphiwe Mazibuko en Phakanyiswa Dladla staan almal tereg op moord, poging tot moord, sameswering om moord te pleeg asook die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.

Die saak teen ʼn sewende verdagte is weens ʼn gebrek aan bewyse laat vaar. Die groep is drie dae ná die moord op Deokaran in Rosettenville aangekeer.

Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Gauteng, sê nog ʼn persoon was saam met Deokaran toe daar buite Deokaran se huis in Winchester Hills op hulle losgebrand is. Die aanklag van poging tot moord spruit hieruit.

Luidens berigte het Deokaran, wat kort tevore haar dogter by die skool gaan aflaai het, se huiswerker by die hek vir haar gewag. Sy was glo net op pad om in Deokaran se voertuig te klim, toe daar op hulle losgebrand is. Die vrou is nie beseer nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het Deokaran Maandag geloof vir die rol wat sy gehelp speel het om korrupsie bloot te lê. Sy was een van die meer as 320 getuies in die ondersoek na bedrog met onder meer persoonlike beskermende toerusting (PPE) in die private en openbare sektor.

Die president sê hoewel die motief vir Deokaran se moord nog nie vasgestel is nie, was sy ʼn sleutelgetuie in die SOE-ondersoek na die PPE-aankope.

Die verdagtes bly in aanhouding tot hulle weer op 13 September in die hof verskyn. Hulle sal na verwagting dan aansoek doen om borgtog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

JM ·

En dan het hierdie moordenaars die vermetelheid om vir borg aansoek te doen! Hou hulle toegesluit!

Kokerboom ·

Welgedaan Valke maar hierdie is net pionne!
Arresteer ASB baasbreine..die kern van korrupsie en staatskaping in SA.
Ons wil die name SIEN!!!

Kobus ·

Mnr die president. U mooi woorde beteken niks.U is altyd in trane na insidente soos die maar in u hart weet u dat u bondgenote geen ander opsie het as om fluitjieblasers te elimineer nie want die korrupte spul waarvan u deel is sal nou alles in hulle vermoee doen om hulleself te beskerm. U het bv voor die Zondo kommissie klomp onwaarhede en beloftes kwyt geraak waar u geweet het dat dit net lippetaal is.Sies!

Hennie J ·

Hierdie weerlose vrou se bloed is aan die hande van die valke, die vervolgingsgesag en die regstelsel en rammetjie se trooswoorde is n gejaag na die wind. Is dit moontlik dat daar nie vir haar behoorlike beskerming gegee kon word nie of is daar weer,soos gewoonlik, n kader wat te moeg was om te dink?

Ferdi ·

‘n Mens kan maar net hoop dat die baasbreine ook vasgetrek sal word.

Althes ·

Ñ Kind se ma sal haar/hom nooit weer kom optel of aflaai by skool nie. Ek is woedend namens wyle mev. Deokaran se familie.
In ñ groot mate kon die insident verhoed gewees het. Ons sit met ñ gangsterstate, met skelms wat hul ampe ten alle koste wil beskerm, daarom moet onskuldige mense boet vir inligting wat gelek het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.