Ses in hof vir boendoegeweld in Noordwes

(Argieffoto: Unsplash)

Altesaam ses mense sal later vandeesmaand weer in die Itsoseng-landdroshof in Noordwes verskyn op aanklagte van moord wat verband hou met twee voorvalle van boendoegeweld in dié provinsie.

Brig. Sabata Mokgwabone, woordvoerder van die polisie, sê vier verdagtes is Vrydag in hegtenis geneem nadat die liggaam van ʼn erg aangerande man in die Bodibe-nedersetting buite Lichtenburg gevind is.

Die polisie is die betrokke dag na dié nedersetting ontbied waar die liggaam van Lebogang Kgoane op die grond aangetref is.

Rebecca Mokoto (55), Letlhogonolo Mokoto (18), Moses Ntekele (23) en Aobakwe Potso (20) is vir die moord op Kgoane in hegtenis geneem.

Dié vier verdagtes het reeds hul eerste verskyning in die hof gemaak en sal weer op 6 Oktober verskyn wanneer hulle na verwagting aansoek om borgtog sal doen.

In ʼn afsonderlike maar soortgelyke voorval is twee verdagtes in hegtenis geneem nadat die liggaam van ʼn jong man (22) in die Bodibe-kliniek aangetref is.

“Luidens inligting wat ontvang is, is die polisie op Woensdag 16 September na dié kliniek ontbied waar Seun Motlana dood gevind is. Verdere ondersoek het aan die lig gebring dat Motlana deur ’n onbekende man na die kliniek vervoer is. ’n Saak van moord is aanhangig gemaak en dit het tot die inhegtenisneming van twee verdagtes gelei.”

Seipei Modisakeng (42) en Labius Mooketsi (36) word aangekla van Motlana se moord. Albei het reeds in die hof verskyn en is op borgtog van R1 000 elk vrygelaat.

Dié verdagtes sal na verwagting weer op 28 Oktober in die hof verskyn.

Lt.genl. Sello Kwena, polisiehoof in Noordwes, het intussen die inhegtenisnemings verwelkom en gewaarsku dat dit ʼn oortreding is om die reg in eie hande te neem.

Kwena het verder gewaarsku dat diegene wat hulle aan boendoegedrag skuldig maak, in hegtenis geneem en vervolg sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Casper ·

Ja natuurlik mag jy nie reg in eie hande neem nie maar hoe moeg moet hierdie gemeenskappe wees vir misdade en trae reaksie van die SAPS.Ek praat dit nie goed wat hulle gedoen het nie.Hulle kon die oorledenis aan die polisie oorhandig het as hulle misdrywe geplaag het bygesê.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.