Ses jeugdiges vas ná plaasaanval, inbrake

Argieffoto

Ses jong verdagtes het Maandag in die hof verskyn in verband met ʼn aanval op ʼn plaas en verskeie inbrake in die Stilbaai-omgewing in die Wes-Kaap.

Die verdagtes is vier seuns en twee meisies, tussen 13 en 21 jaar oud.

Dit kom ná ʼn aanval Woensdag op ʼn plaas in die Blombos-omgewing. Kapt. Malcolm Pojie, woordvoerder van die polisie, het gesê ʼn egpaar het in hul huis op die plaas geslaap toe hulle omstreeks 00:40 wakker geskrik het van ʼn harde klapgeluid. Hulle het twee koeëlgate in hul slaapkamervenster gesien, asook ʼn koeël, vermoedelik van ʼn .22-patroon, op die bed.

Die verdagtes het op die vlug geslaan en die egpaar het dadelik die polisie ontbied. Die egpaar is nie in die voorval beseer nie.

“Die ondersoekspan het die omgewing en ons plaaslike misdaadrekordsentrum gefynkam vir leidrade en alles in hul vermoë gedoen om die aanvallers op te spoor,” het Pojie gesê. Die ses verdagtes is deur die loop van Vrydagnag en Saterdagoggend in die beboste gebied van Blombos in hegtenis geneem.

Een van die polisiebeamptes is in die proses met ʼn koeëltjie van ʼn windbuks geskiet, maar dit het sy polisiewapen getref en die beampte is nie ernstig beseer nie.

“Twee sake van poging tot moord is aanhangig gemaak. Die verdagtes word ook verbind met die onlangse vlaag inbrake waaronder die landelike gemeenskap van Stilbaai gebuk gaan. Die verdagtes het in die hof verskyn waarna die saak uitgestel is vir nadere ondersoek. Hulle almal bly in aanhouding tot dan,” het Pojie gesê.

Hy kon nie onmiddellik die datum van die verdagtes se volgende hofverskyning bevestig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Lerato ·

Ons hier in Johannesburg het hoë mure en elektriese drade. Die ouens op plattelandse dorpies sal hulle veiligheid moet opskerp

Andrea ·

Só jonk en al misdadig. Wens sulke mense kon permanent uit die samelewing verwyder word.

Alida 2 ·

Lerato dit is maklik om te sê veiligheid moet opgeskerp word.
Dit is goed wat geld vra en nie almal is so bevoorreg om dit te kan bekostig nie.
Geen heining(behalwe hoë muur) , kamera of alarm gaan in elkgeval ‘n koeël wat van buite geskiet word keer nie. Koeëls trek ver.

Ella ·

Hoekom is n kind van 13 nie in die skool nie?
Ek het vanoggend my antwoord in ons dorp gekry toe vier kinders, n seun en drie meisies van so 13 of 14 in vullissakke krap. Toe ek vra hoekom hulle nie in die skool is. Skole sluit eers Vrydag. Nie een kon antwoord want hulle verstaan nie wat ek se, nie eens Engels nie. So wat leer hulle in die skool? Blykbaar niks.
n Huishulp het uitgekom en hulle het haar gese skool is toe weens onluste.
Nog n geslag wat nerens gaan kom in die lewe.

Nie ons skuld ·

Hierdie wanprestasie van die ANC en geen grensbeheer na 25 jaar is beslis nie ons skuld nie en ek weier om enige verdere skult op gepak te word.

lewies ·

Sal ons in staat wees om die ander wang te draai? Ek vra maar net.

danie * ·

Word dit nou vir hulle n sport ? Of staan ons dalk TE stil ?

Cobus ·

Stem saam Kom ons Hou op om die ketting the trek maar eerder help om the bou en reg temaak hierdie is ons enige land .
.maak fit week vir ons kinders

cool ·

ja die saak is uitgestel sodat die eff hu teenwoordigers na die kinders toe kan stuur sodat hulle hul stories kan reg kry, en hulle die maan en die sterre beloowe want hulle is mos helde nou

Pieta ·

Die polisie doen by uitsondering hul werk. Die wiele het lankal afgeval.

Netso ·

Met ñ windbuks geskiet en. 22 koël op die bed gekry? Hoop dit was net droogmaak in die ergste graad vir daai kinders? Iemand kon dood gewees het!

Nettie ·

Vat daai 13 tot 18-jariges en gee hulle elkeen ‘n afgedankste loesing wat hulle nooit ooit sal vergeet nie. Ja, ek weet jy mag nie meer aan die bloedjies slaan nie, maar as hulle misdadig wil wees op daardie ouderdomme, en twee van hulle nog bowendien meisies, verdien hulle dit. En daarna sit jy hulle in ‘n verbeteringskool – die soort waar hulle verkieslik moet werk vir hul kos en klere en as hulle ongehoorsaam is, hulle nóg ‘n loesing op die lyf loop.

Dit is vandat kinders “regte” het dat hulle uitrafel en vroeg-vroeg al begin eksperimenteer met dwelms, drank en ‘n grootmens-lewe. Ons geslag kinders is plathand-op-die-agterstewe grootgemaak (oftewel, ons het “Boere Sielkunde” ontvang) en dit is uitgedeel deur die eerste, beste grootmens wat jou gevang het waar jy twak aanvang. Die hele gemeenskap het mekaar se kinders grootgemaak en vandag is ek self ‘n groot mens met twee ‘tekortkominge’: respek vir ander en hul eiendom en toegewydheid.

Dít is die verskil tussen vandag se jeug en dertig jaar gelede se jeug.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.