Ses keer lewenslank vir reeksverkragter

Argieffoto (Foto: Josh Hild/Pexels)

ʼn 31-jarige man is Vrydag in die Mthatha-hooggeregshof ses lewenslange vonnisse opgelê op aanklag van verkragting in landelike dele in Butterworth in die Oos-Kaap.

Sandiso Vani het skuld beken op ses aanklagte van verkragting en hy is vir elkeen van dié vonnisse lewenslange tronkstraf opgelê, het Luxolo Tyali, woordvoerder van die direkteur vir openbare vervolging in Mthatha, gesê. Die hof het hom tot ʼn verdere vyf jaar gevonnis vir elke van die drie aanklagte van huisbraak met die doel om ʼn misdaad te pleeg en 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede. Die hof het bepaal dat laasgenoemde vonnisse gelyklopend uitgedien sal word.

“Vani het in Maart 2015 met sy reeks misdade begin. Hy het ʼn 12-jarige meisie aangeval wat saam met haar familie vir haar ma by ʼn bushalte in Jojweni gewag het. Hy het haar gegryp en na ʼn nabygeleë bos geneem waar hy haar aangerand en verkrag het.”

Op die oggend van 4 Maart 2014 het hy ʼn 13-jarige slagoffer teëgekom wat op pad skool toe gestap het by Gobe Forest Hill. “Hy het haar met ʼn mes gedreig en haar na ʼn bos geneem waar hy haar verkrag het.”

ʼn Paar maande later het hy op 3 Junie 2015 ʼn vrou aangeval wat saam met haar kinders in hul huis by Magiqweni gelê en slaap het. “Hy was saam met ʼn medepligtige wat steeds op vrye voet is. Hulle het die vrou geblinddoek en haar om die beurt verkrag.

Op 23 Junie 2015 het Vani nóg ʼn vrou verkrag wat in haar huurwoonstel by Njingini gelê en slaap het.

Op 19 Augustus 2017 het ʼn vrou saam met haar kind en ʼn familielid se kind by hul huis in Diphini gelê en slaap. “Sy het wakker geword van ʼn harde geluid by die kombuisdeur. Sy het twee mans in die huis opgemerk. Hulle het haar aangerand en om die beurt verkrag. Hulle het haar daarna gedwing om vir hulle kos en tee te maak voor hulle van die toneel gevlug het.”

Op 1 Oktober 2018 het twee mans by ʼn huis ingebreek waar ʼn vrou en haar 14-jarige dogter gelê en slaap het. “Hulle het die ma met ʼn panga aangerand en die dogter verkrag voor hulle met haar seilskoene, R1 500 kontant en drie selfone gevlug het.”

Tydens die misdade het Vani in Kaapstad saam met sy ma gebly. Sy ma was ʼn stasiebevelvoerder by Delft-polisiestasie. Hy het gereeld besoek afgelê aan haar ouerhuis in Butterworth. “Hy is aan al die verkragtings verbind deur DNS ná hy in Maart vanjaar skuldig bevind is op aanklag van ʼn moord wat in 2016 in Centane gepleeg is. Hy het reeds drie maande uitgedien vir die 15 jaar tronkstraf wat hy vir die moord opgelê is.

Regter Mandela Makaula het Vani as ʼn “seisoenale reeksverkragter” beskryf. Hy sal eers die ses lewenslange vonnisse begin uitdien ná hy die vonnis uitgedien het wat hy tans vir die moord opgelê is.

Staatsaanklaer Chantel Govender het versoek dat Vani se naam op die lys van seksuele oortreders bygevoeg moet word. Die aansoek is goedgekeur.

Tyali sê die NVG verwelkom die vonnisoplegging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Magda

Verdien di DOODSTRAF, nou moet ons di belasting betaler vir di GEMORS SORG.

Casper

Hoe doen jy dit aan ‘n kind.Hoeveel moorde gaan daar nog in ons land plaasvind seker tot die leeu en die lam bymekaar gaan lê.

Nico

Hy lewe nou lekker in die tronk hy kan elke dag lekker eet, hy slaap warm, die mense wat hy so verkrag se lewens is verwoes, hy moes die doodstraf gekry met. Volgens die ANC is dit onmenslik om die doodstraf te gebruik.