Ses mans in middestad vas ná skietery

Die kontant en vuurwapen waarop beslag gelê is (Foto: Verskaf)

Ses mans is Sondag in die Johannesburgse middestad vasgetrek nadat hulle glo ʼn beampte van die Johannesburgse metropolisie (JMPD) probeer skiet en daarna aangerand het.

Xolani Fihla, woordvoerder van JMPD, sê beamptes was Sondag omstreeks 19:50 besig met ʼn patrollie toe hulle op die hoek van Noord- en Claimstraat in die Johannesburgse middestad gehoor en ondersoek gaan instel het. Daar het hulle op ʼn man afgekom wat besig was om ʼn 9 mm-pistool in die lug af te vuur.

“Beamptes het hulself aan die man as lede van die polisie voorgestel en die man het begin om skote in hul rigting af te vuur,” sê Fihla.

Een van die beamptes het die man versigtig probeer nader.

“Toe hy die beampte gewaar, het hy die vuurwapen onmiddellik vir een van sy vriende gegee om in ʼn minibus, wat op die toneel was, te versteek.”

Daar was altesaam vyf mans in die minibus.

“Toe een van die beamptes die minibus nader, het die mans hom begin aanrand. Die ander beamptes het nog hulp ingeroep.”

Die vuurwapen met een koeël is in die minibus gevind. Vyf leë patroondoppies en kontant ter waarde van R4 010 is ook in die voertuig gevind. Die polisie het hierop beslag gelê.

Altesaam ses verdagtes is in hegtenis geneem en word aangekla van poging tot moord, die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie, dwarsboming van die gereg en die afvuur van ʼn vuurwapen in ʼn openbare plek.

Die minibus is na die polisie se skut in Aeroton geneem.

Die verdagtes sal na verwagting Dinsdag in die Johannesburgse landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Flip ·

Gaan niks met hulle gebeur nie want Julius het dieselfde gedoen en niks gebeur.

Stefan ·

Moei sè, dit lyk of die beamptes korrek en doelmatig opgetree het.

Cornelius ·

Misdaad en nog misdaad. Dit het nou die kultuur en karakter van Suid Afrika geword. Dis al wat jy lees en daar gaan heel moontlik niks met die krimineel gebeur nie want dis ons nuwe nasionale kultuur.

Thea ·

Ek kan nie glo dat daar nog plek is in on Suid Afrikaanse tronke nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.