Ses oorval egpaar in plaashuis

Joye en Gert Pienaar ná die aanval. (Foto: Boere Krisis Aksie/Facebook)

Die Vrystaatse polisie is op die spoor van minstens ses verdagtes wat na bewering vandeesweek by ’n plaasaanval buite Dewetsdorp betrokke was.

Die egpaar Gert (81) en Joye Pienaar (75) is Maandag in die vroeë oggendure in hul huis op hul plaas oorval en aangerand.

Brig. Motantsi Makhele, woordvoerder van die polisie, het die voorval aan Maroela Media bevestig.

Volgens Makhele het die verdagtes na bewering die egpaar in hul huis oorval en vuurwapens op hulle gerig. Die verdagtes het op kontant aangedring.

“Die verdagtes het die slagoffers se hande met ’n telefoonkoord vasgemaak. Die slagoffers is met ’n stomp voorwerp en selfs met ’n vuurwapen aangerand,” sê Makhele.

Die verdagtes het daarna met twee vuurwapens en ’n onbekende bedrag kontant op die vlug geslaan.

Joye kon daarin slaag om haarself los te wikkel en hulp by ’n naburige plaas te ontbied.

Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

Enigeen met inligting omtrent die voorval word versoek om dit by ao. Ngabomo Thandazo by 083 712 0576 aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.