Ses partye sal Moonshot-pakt bespreek

John Steenhuisen, leier van die DA (Foto: DA/Twitter)

Minstens ses politieke partye sal binnekort deelneem aan ʼn nasionale kongres om ʼn sogenaamde Moonshot-pakt te bespreek om die ANC en EFF teen te staan.

John Steenhuisen, leier van die Demokratiese Alliansie, het Saterdag tydens ʼn regstreekse uitsending ʼn toespraak gelewer oor die verdrag.

“Ons land is tans in ʼn donker plek. Beurtkrag is nou ʼn permanente kenmerk van lewe aan die suidelike punt van Afrika,” het Steenhuisen gesê. “Ons is tans op fase 6 en ons word deur die harde werklikheid in die gesig gestaar dat kragonderbrekings fase 8 of hoër kan wees hierdie winter.”

Steenhuisen sê die land lyk al hoe meer soos ʼn mafiastaat waar die mense, wat veronderstel is om sy burgers te beskerm, die ontsnapping van veroordeelde verkragters en moordenaars wegsteek.

“Net verlede maand het ek die familie van jong Langalam Viki besoek, wat in ʼn puttoilet by ʼn skool in die Oos-Kaap gesterf het, omdat basiese dienslewering in groot dele van die land ineengestort het. Dit is die nalatenskap wat pres. Cyril Ramaphosa agterlaat. Ons as ʼn land is verraai deur die swakste president wat Suid-Afrika nog ooit gehad het. Ek wens ek kon vir julle vandag sê dinge gaan definitief beter raak, maar die realiteit is dat dinge baie, baie erger kan word.”

Steenhuisen sê sedert sy toespraak by die DA-kongres het die ANC-premier van Gauteng publiek bevestig dat sy party se doel is om ʼn oordeelsdagkoalisie aan te gaan met die EFF ná die 2024-verkiesing.

“Ons moet nooit vergeet waarom die EFF in die eerste plek uit die ANC geskop is nie: die EFF se leiers was te radikaal, te korrup en te gewelddadig, selfs vir die ANC. In hul desperaatheid om aan mag te bly vasklou, het die ANC nou bevestig dat hy ʼn koalisie sal aangaan wat na die EFF se pype sal dans. Dit sal die seël wees op die land se ondergang.”

Steenhuisen sê ondanks die werklike risiko van ʼn ANC-EFF-koalisie, is daar tog rede vir hoop.

“Eerstens is die ANC se ondersteuning besig om te daal. Die DA is nou gereeld binne 12% van die ANC in meningspeilings. Die DA werk baie hard om hierdie gaping verder te vernou sodat ons die ANC kan verbysteek en die enkele grootste politieke party in die land kan word.”

Die DA besef egter dat Suid-Afrikaners baie meer van die party eis as die amptelike opposisie, voeg hy by. “Hulle eis dat ons die DA nie net so groot as moontlik maak nie, maar dat ons ook ʼn geloofwaardige pad na oorwinning vir 2024 uiteensit sodat ons die ANC kan oorwin en die EFF buite kan hou. Hulle eis dat ons die land voor die party stel. Trouens, hulle eis dit nie net van die DA nie, maar van elke opposisieparty wat teen die ANC en die EFF staan.”

Die DA het gevolglik twee weke gelede ʼn hand van vriendskap en samewerking uitgereik na die leiers van opposisiepartye om ʼn verenigde opposisie te vorm wat hand-aan-hand kan werk om die nie-ANC-en-nie-EFF stem tot 50% plus een te laat toeneem.

Steenhuisen sê dié Moonshot-pakt is besig om vorm aan te neem.

Die party het reeds met die leiers van 15 verskillende organisasies vergader om by die party aan te sluit in ʼn poging om ʼn voor-verkiesing-Moonshot-pakt te vorm. “Die enigste opposisieleiers wat nie genooi is nie, was diegene wat belyn is met die ANC en die EFF.”

Nuutgevormde partye en bewegings is ook uitgenooi om deel te word van die verdrag.

Die volgende ses partyleiers het tot dusver ingestem om die nasionale kongres by te woon om die Moonshot-pakt te bespreek:

  • Velenkosini Hlabisa van die Inkatha Vryheidsparty;
  • Herman Mashaba van Action South Africa;
  • Ahmed Shaik Imam van die National Freedom Party;
  • Dr Pieter Groenewald van die Vryheidsfront Plus;
  • Neil de Beer van die United Independent Movement; en
  • John Steenhuisen van die Demokratiese Alliansie.

“Tydens die 2021- plaaslikeregeringsverkiesing het ʼn derde van alle kiesers ʼn stem vir een van dié partye uitgebring. Ons taak is nou om die pakt se ondersteuning van ʼn derde te laat groei tot net meer as die helfte van alle stemme in 2024.”

Buiten die partye wat reeds ingestem het, het Mmusi Maimane van Build One South Africa en Songezo Zibi van Rise Mzansi ook aangedui dat hulle nog hul reaksie oorweeg.

Leiers van die African Independent Congress, African Transformation Movement, Abantu Batho Congress, Pan African Congress en Minority Front het nog nie gereageer nie.

“Die deur bly oop vir hulle almal om hul regmatige plek in te neem rondom die onderhandelingstafel,” sê Steenhuisen. “Ek hoop dat hulle binnekort by ons sal aansluit. Ons kan nooit die deur sluit op Suid-Afrika nie.”

Kenneth Meshoe van die African Christian Democratic Party; Bantu Holomisa van die United Democratic Movement en Bongani Baloyi van Xiluva het die uitnodiging na die kongres van die hand gewys.

“Ek respekteer natuurlik die reg van hierdie leiers absoluut om hul eie weg vorentoe te bepaal, maar ek wil hulle graag vra om die besluit te heroorweeg. As jy ʼn ondersteuner of skenker is van een van dié partye, vra ek dat jy jou stem sal gebruik om hulle aan te moedig en te verenig in die belang van die land waarvoor ons lief is.”

Steenhuisen sê die enigste manier om die ANC te verower, is wanneer alle Suid-Afrikaners van verskillende agtergronde saamkom. “Die ANC floreer op verskille in ons samelewing. En ons weet almal die enigste manier om ons land te herbou is as Suid-Afrikaners verenig staan in ons diversiteit op pad na ʼn gemene doel.”

Hy voeg by dat die verskillende partyleiers ook reeds hulpvaardige en konstruktiewe voorstelle gemaak het om die sukses te verseker van onderhandelings.

“Ek put inspirasie uit die kennis dat dié leiers die droom deel van ʼn sterk en saamklewende pakt om ons land teen die bedreiging van ʼn ANC-EFF-oordeelsdag te red. Ek wil graag opnuut benadruk hoe belangrik dit vir partyleiers is om oor die inhoud van die pakt te onderhandel. Dit hang af van die leiers van die organisasies om rondom die tafel te sit by die nasionale kongres om die visie uiteen te sit vir die pakt. Die skep van dié ooreenkoms is eenvoudig te belangrik om op enige manier gedelegeer te word of verwaarloos te word.”

Steenhuisen onderneem om na elke leier, wat reeds tot die gesprek ingestem het, uit te reik en persoonlike ontmoetings met hulle te reël.

“As alles goed gaan, sal die nasionale kongres vir die Moonshot-pakt gedurende die winter gehou word. Dit gaan ʼn donker winter wees wat ons land se vermoëns soos nog nooit vantevore nie gaan toets. Ek weet dat jy en jou familie op ʼn daaglikse basis toenemende beurtkrag beleef, die vooruitsig van ʼn algehele ineenstorting van die kragnetwerk, gewelddadige misdaad en toenemende armoede en werkloosheid. Maar die vooruitsig van ʼn verenigde opposisie, wat ons nietige verskille opsysit in diens van Suid-Afrika, kan ʼn kragtige ligstraal wees tydens ʼn donker winter. Vir die eerste keer sedert 1994 staan die ANC die kans om volgende jaar se verkiesing te verloor. Oorwinning is binne ons greep – as ons die moed het om die geleentheid aan te gryp.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Althes ·

Ons het al die gebede, vertroue en geloof en politieke partye nodig. En mense moet gaan stem. Dit help nie mense sê hul stel nie in politiek belang nie.
As ons nie nou aktief optree nie, gaan dit die einde van ñ pragtige land wees vir ons kinders en nageslag.
Buitelandse SA burgers moet ook stem sodat hul hil goeie daad vir die dag kan verrig.

Papsak ·

Dankie vir al hierdie partye wat wil iets doen kom laat ons reg stem en laat ons hulle uit stem en SA sal reg kom mense ons kan tyd is hier ons oe moet oop gaan laat ons wys ons kan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.